ADVERTISEMENT:

 

Onwettige immigrante geblameer vir konflik op plase

 

News  Date: 13 February 2004

 

MOPANE – Die Soutpansberg Distrikslandbou-unie se georganiseerde optrede teen ongewenste swaar padvragverkeer en onwettige immigrante sal voortgesit word totdat die betrokke owerhede bevredigende wetstoepassing in plek het.

Dié formele besluit is aangekondig nadat vrywilligers hier vir bykans 'n maand lank reeds te midde van veeleisende omstandighede die rampspoedige gevolge van owerheidsonvermoë en blatante rassisme moet bestuur.

Grootskeepse vergrype en onwettige vervoerbedrywe wat die gebrek aan beheer uitbuit, is reeds tydens die aksie aan die lig gebring en aan die betrokke owerhede gerapporteer. 'n Massiewe toename in misdaad, wat veral die landboubevolking nadelig tref, word reeds 'n geruime tyd beleef, met duisende Zimbabwiërs wat meestal bloot met die klere aan hulle lyf vryelik oor die grens instroom.

Intussen het spanning oor die onbeheerde vloedgolf onwettige immigrante oor die Limpopgrens die afgelope naweek hier bykans breekpunt bereik, weens die veiligheidsmagte se onvermoë om die situasie te hanteer.

'n Plofbare situasie het by die Bokmakierie beheerpunt ontstaan, waar lede van die Distrikslandbou-unie onwettige vreemdelingeverkeer tesame met ongewenste swaar vragmotorverkeer monitor.

Meer as 100 onwettige immigrante is die naweek by die beheerpunt aangekeer en in hegtenis gehou, totdat die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag vanaf Musina hulle kon wegneem na formele aanhoudingsgeriewe. Ongeag dringende vertoë, wat reeds in 2002 aan die Area Kommissaris van die polisie in Polokwane gerig is, is daar nog steeds geen aanhoudingsfasiliteit vir onwettiges in die Mopane-omgewing nie. Om ontvlugting en aanranding van plaaslike mense te voorkom, is die aangekeerde onwettige immigrante met arms ingehaak en duime aanmekaar gebind, aangehou, totdat polisie en militêre vervoer kon opdaag.

Nadat die eerste groep ordelik weggeneem is deur veiligheidsmagte, wat formeel bevestig het dat hulle die gevangenes in 'n bevredigende toestand ontvang het, het die getal aangehoudenes toegeneem, terwyl daar etlike ure gewag moes word vir die amptelike voertuie om weer op te daag.

Twee onwettige vroulike gevangenes, een uit Zimbabwe en een uit Zambië, het aggressief gereageer deur beledigings na funksionarisse te slinger en hulself gedeeltelik te ontklee. 'n Gespanne situasie het ontstaan toe van die plaaslike omstanders voertuie op die N1 voorgekeer en na die toneel ontbied het, waar die situasie in 'n georkestreerde betoging begin ontaard het.

Van die omstanders, wat plaaslike inwoners ingesluit het, het blatante rassistiese beledigings en dreigemente teen die blanke lede van die landbou-unie geopper. Die situasie is ontlont nadat versterkings opgedaag het.

Met die uiteindelike aankoms van die polisie en SANW voertuie, het dieselfde magslede, wat vroeër op professionele wyse behulpsaam was, skielik te midde van die betogende skare hul houding verander en 'n vyandige houding ingeslaan teenoor die vrywilligers wat die oortreders aan hulle oorhandig het.

Die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie se Veiligheidskomitee, mnr. Gideon Meiring, het by navraag gesê hy het begrip vir die feit dat die polisie hulle hande vol het met die algemene bekamping van misdaad en daarom probleme ondervind om die aangehoue onwettige immigrante met bekwame spoed vanaf Mopane na Musina af te voer.

"Dit vergroot egter die areabestuur van die polisie se morele aanspreeklikheid, deurdat hulle reeds twee jaar gelede tydig ingelig is aangaande die probleem en die behoefte aan 'n aanhoudingsfasiliteit, en nogtans nagelaat het om te begroot vir dié dringende behoefte, waarvan hulle bewus was."

In nog 'n wending het die Tshipise Toll Gate Concerned Group ook tydens sy jongste vergadering volle steun toegesê aan die aksie van die landbou-unie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines