ADVERTISEMENT:

 

generic image

Vrou in trane ná man se vonnis

 

News  Date: 16 September 2011

 

Trane het gevloei tydens die vonnisoplegging van ‘n jong man in die Louis Trichardt Streekhof voorverlede Woensdag.

Die 35-jarige Jacques Julian Koch is weens diefstal ses jaar direkte gevangenisstraf opgelê. Dit was tydens vonnisoplegging dat sy vrou, wat in die gallery gesit het, histeries in trane uitgebars het.

Koch en ‘n mede-beskuldigde, Jacobus Christiaan Oosthuizen (51), het verskyn op drie klagte van diefstal. Die klagte hou verband met derduisende rande wat hulle verduister het van hul werkgewer. Altwee was werksaam by Bridge Motors, ‘n bekende motorhandelaar op die dorp, se tweedehandse voertuie-afdeling. Koch was ‘n verkoopsman en Oosthuizen was die bestuurder.

Koch is uitgevang toe kliënte begin kla het dat hulle geld oorbetaal het vir motors wat hulle gekoop het, maar nooit ontvang het nie.

Nadere ondersoek het aan die lig gebring dat Koch in een geval R80 000 van Charles Mukwevho ontvang het vir ‘n Hilux bakkie wat hy veronderstel was om te bestel. In nog twee gevalle het Koch onderskeidelik R100 000 en R25 000 ontvang, wat hy in sy sak gesteek het en nie oorbetaal het in Bridge se bankrekening nie.

Koch is voor stok gekry, en tydens ondervraging het hy vertel dat hy en Oosthuizen die geld gevat het en daarmee gaan dobbel het by Meropa Casino.

Die klagte teen Oosthuizen is egter voorlopig teruggetrek om Koch se aantygings verder te ondersoek.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines