ADVERTISEMENT:

 

Die nuwe Toyota bakkie wat in die ongeluk betrokke was

Drywer leef, maar onmin oor insleep van voertuig

 

News  Date: 26 September 2011

 

‘n Splinternuwe voertuig wat van Durban op pad was na Louis Trichardt is Maandagaand (19de) op die N1 afgeskryf, nadat ‘n koedoe vermoedelik voor die voertuig ingespring het. Daar was ook 'n ongelukkige nadraai met die insleep van die voertuig.

Mnr. John Nkwana, 'n drywer vir Werda Toyota, het erge kneuswonde en krapmerke opgedoen, maar is reeds Dinsdag uit die hospital ontslaan en sterk tuis aan.

Die ongeluk het omstreeks 20:00, ongeveer 30km van Louis Trichardt in die Bandelierkop-omgewing gebeur. Met die uitswenk vir die koedoe het mnr. Nkwana beheer oor die voertuig verloor, waarna dit omgeslaan en gerol het. Die voertuig was nie van die pad af sigbaar nie. Na ongeveer twee ure het ‘n bebloede mnr. Nkwana daarin geslaag om die pad te bereik. Teen ongeveer 23:00 het ‘n polisievoertuig hom kom help, waarna hy per ambulans hospitaal toe is.

Dinsdagoggend het mnr. Eddie Schlesinger, die eienaar van Werda Toyota, bekommerd geraak  toe sy getroue drywer nie opdaag nie. Toyota het by die Makhado polisiestasie vasgestel dat ‘n ongeluk aangemeld is, dat die bestuurder waarskynlik in die hospitaal opgeneem is en dat die voertuig ingesleep is. Hulle het die nommer van die insleepdiens, Mooketsi Towing, verskaf.

Die saak is by Toyota se versekeraar, PSG, aangemeld. Me. Ralda van Wyk van PSG het dadelik gesê dat die betrokke insleepdiens glad nie by hulle geregistreer is nie.

“Ek en mnr. Schlesinger het na die insleepdiens se perseel gery en bevind dat dit ‘n leë huis in die nuwe uitbreiding is. Ek was nie seker of my kliënte se voertuig veilig daar sou wees nie. Hulle het betaling vir insleep en dagfooie geëis en wou nie die voertuig gee nie,” het Van Wyk gesê.

Schlesinger het gesê dat hy nog nooit van die diens gehoor het nie. Die voertuig lyk asof dit afgeskryf sal word.

‘n Ongeluk kan enige mens oorkom en kostes kan vinnig ophoop. Die vraag ontstaan hoe jy bepaal wie jou voertuig insleep. Van Wyk sê dat by feitlik al die groot versekeraars daar ‘n padbystanddiens beskikbaar is.

“My advies is dat elke persoon seker moet maak dat hy oor goeie kennis van die betrokke padbystanddiens beskik. In ons geval verskaf ons ook plakkertjies vir die voertuig se ruit, wat ‘n nommer gee wat geskakel kan word deur ‘n persoon wat op die ongeluk afkom, indien die bestuurder nie in staat is om dit self te doen nie."

Toyota sê dat hul drywer die inligting van sy werkgewer aan die insleepdiens verstrek het. Die drywer wou Schlesinger self skakel, maar sy selfoon het tydens die ongeluk verloor en niemand op die toneel of by die hospitaal was bereid om vir hom ‘n selfoon te leen nie.

“Ek vind dit vreemd dat die diens oor  my besonderhede beskik het, maar my glad nie gekontak het nie,” sê Schlesinger.

Die eienaar van die Mooketsi Towing het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê dat hulle nie die eienaar in kennis stel nie, aangesien dit op die polisieverslag staan waarheen die voertuig gesleep is.

“Die drywer het ons toestemming gegee om in te sleep,” het die eienaar gesê. Hy het gesê dat sy insleepdiens se drywer van Polokwane af gekom het en vroeër die aand verby die ongelukstoneel gery het. Hy was nie geneë om verder vrae te beantwoord nie en het die selfoon doodgedruk.

Teen laat Dinsdagmiddag het Van Wyk gesê dat hulle daarin geslaag het om ‘n Santam-magtigingsnommer te kry wat ‘n insleepdiens verplig om op ‘n gestandardiseerde kostestruktuur te werk.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines