

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 September 2011
´n Veelsydig opvoedkundige uitreikprojek, waarby die hele gesin en die hele gemeenskap betrokke kan wees, is sedert Januarie volstoom op stryk by Laerskool Louis Trichardt.
Die sogenaamde “broodknippie-projek” is steeds besig om in momentum toe te neem, met mense uit alle dele van die gemeenskap wat geesdriftig meedoen aan die versameling van die polistreen-skyfies waarmee fabrieksbroodsakkies verseël word. Die skyfies word in massas aan ‘n herwinningsaanleg verkoop en die geld wat so ingesamel word, word gebruik vir die aankoop van rolstoele, wat geskenk word aan mense wat dit nie kan bekostig nie.
Dié vindingryke rolstoelskenkingsprojek het ook ‘n veelsydige opvoedkundige doel, sê adjunk-hoof Irene Adendorf. “Dit leer herwinning, voorkoming van besoedeling en deernisvolle, praktiese liefdadigheid, waarmee ons ook leer om terug te gee aan die gemeenskap.”
Die skyfies word by die Groplast-herwinningsaanleg in Randfontein gesmelt en in blokke gegiet, wat dan weer benut word vir die vervaardiging van artikels soos fotorame en saadkissies.
Tien swartsakke vol (sowat 500 000 van die skyfies) dek die koste (R1 750) van een rolstoel, wat in samewerking met die Rotariërs se rolstoelprojek gelewer word.
Die sonderlinge projek het sy ontstaan te danke aan die 75-jarige mev. Mary Honeybun van Noordhoek buite Kaapstad. Sy sê: ”Klein broodsakkieskyfies maak ‘n groot verskil. Dis merkwaardig wat mense kan verrig as hulle wiele het.” Sy is die afgelope sewe jaar reeds besig om in te samel en om almal rondom haar aan te moedig om dieselfde te doen. Sedertdien het die uitreik- en herwinningsprojek landwyd gegroei en van oraloor stroom die vragte skyfies in.
Laerskool Louis Trichardt het sedert Januarie vanjaar reeds 86 000 skyfies versamel, met behulp van geesdriftige leerlinge en verwante wat al die nywerheidskombuise in en om die dorp fynkam. Korrektiewe dienste, die hospitale en die lugmagmenasie word reeds betrek. Oraloor kom daar van private huishoudings ook klein sakkies skyfies of “broodknippies” by die skool aan.
“Die projek dra werklik daartoe by om waardes by ons leerlinge te vestig: Om om te gee in die gemeenskap,” sê Irene.
Die bydraes vanuit Louis Trichardt sal benut word om plaaslik ‘n roelstoel vir ‘n behoeftige persoon te lewer.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
