ADVERTISEMENT:

 

Vernietiging van paaie op hoë vlak bespreek

 

News  Date: 13 February 2004

 

MOPANE – Die gemeenskap se georganiseerde aksie om vernietigende internasionale swaarvoertuigverkeer weg te hou van distrikspaaie in die omgewing, het verlede week sy twintigste dag betree.

Spanne van 12 mense per dag, wat uit Waterpoort, Mopane, Louis Trichardt en Levubu kom, beman kontrolepunte. Nagenoeg 240 mense was tot dusver betrokke by die ordelike hantering van die aksie, wat reeds 'n beduidende uitwerking op ongewenste verkeerspatrone het en verskeie positiewe newewinste opgelewer het. Vrywilligers (mans en vroue) doen diens in die spanne.

Nasionale belangstelling in die aksie is verlede week bevestig deur die besoek van 'n televisiespan wat opnames gemaak het vir Freek Robinson se Fokus-program. Reaksie is ook reeds ontvang vanaf die Nasionale Padagentskap.

Die nasionale polisiehoof, kommissaris Jackie Selebi, sowel as die provinsiale hoof, kommissaris Sengani, het intussen verlede week by die kontrolepunt by Bokmakierie aangedoen. Die hooggeplaaste polisielede se teenwoordigheid in die verre-noorde hou vermoedelik deels verband met die opspraakwekkende voorval waarin mnr. Faan Brits van Mopane en 'n lid van die Beitbrug-grenspolisiepos betrokke was. Die voorval het landwyd opslae gemaak.

Die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie se komitee oor veiligheid, mnr. Gideon Meiring, het bevestig dat bykans geen swaar voertuie meer op die grondpaaie voorkom nie. Vragmotorbestuurders en -eienaars word deur middel van pamflette ontmoedig om die sub-standaard alternatiewe paaie te gebruik.

Mnr. Meiring sê 'n geraamde 150 tot 200 vragmotors – sowat 20% van die daaglikse nagenoeg 800 vragmotors - het vroeër van die Waterpoort en Njeleledrif ompaaie gebruik gemaak om die Baobab tolhek te vermy. Nagenoeg 45 voertuie per dag, wat as verdienstelike gevalle beskou word, word nou deur die westelike verbypad (die ou alternatiewe roete) gekanaliseer. Die res moet deur die tolhek gaan.

In die proses om ongewenste swaarvoertuie van die grondpaaie af te hou, is 'n aansienlike getal onwettige immigrante ook ontmoedig. Altesaam 42 onwettige immigrante uit Zimbabwe en twee uit die Kongo is in die proses aan die SAPD en die SANW oorhandig. Mense wat hulle skuldig maak aan die vervoer van Zimbabwiërs se besonderhede is ook aan die polisie verskaf. In die huidige stadium word feitlik geen onwettige immigrante in die omgewing van Mopane opgemerk nie. Luidens weermagbronne het beweging van onwettige immigrante egter intussen verder wes, in die Alldays-omgewing, drasties toegeneem.

Met dié aksie word onder meer ook beoog om die betrokke owerhede tot sinvolle positiewe optrede aan te spoor. Padtekens word benodig wat vragmotors duidelik sal ontmoedig om sub-standaard paaie te gebruik. Vlooteienaars moet ook kennis neem van die vernieling van vragmotors en vrag op sulke paaie. Werklike meriete gevalle moet hanteer word om te verhoed dat beweging weer op sekondêre paaie geskied.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines