

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 October 2011
Gedurende ‘n vlaag van huisbrake en betreding van erwe in Louis Trichardt in September het ‘n afgetrede egpaar ontdek dat die inbrekers by hulle in die kamer was sonder dat hulle wakker geword het.
“Hierdie mense spuit of brand iets by jou kamervenster, want ons slaap gewoonlik nie so vas nie. Toe ons so by 04:30 wakker word, was ons huis se ligte aan. Hulle het my ID-boekie op my gegooi en my selfoon, ‘n sak pille, my vrou se handsak met karsleutels, bankkaarte en R200 kontant gesteel. Die huissleutels was gelukkig buite neergegooi,” sê mnr. Pieter Venter (74) van Wolmaransstraat. Hulle woon al 30 jaar by dieselfde adres en dit is die eerste keer dat inbrekers tot binne in die huis gekom het.
Die inbrekers het toegang tot die huis verkry deur ‘n toestel wat hulle van ‘n stok en sterk draad gemaak het. Hulle het ‘n venster, wat nie heeltemal op knip was nie, oopgeforseer en die handvatsel van die ruit met die haak vooraan afgetrek.
In die geval van die Venter-egpaar, het hulle moontlik eers iets by hul oop slaapkamervenster gebrand of gespuit. Daarna is die voorportaal se venster oopgeforseer, die diefwering afgesaag en in die huis gekom. Die polisie kon geen vingerafdrukke vind nie. Hierdie voorval het op 10 September plaasgevind.
Ongeveer tien dae later is daar by die motor van ‘n kuiergas ingebreek en ‘n tas met klere is vermis.
Hierdie week Maandag het Venter se vrou, Alida, in die vroeë oggendure iemand buitekant hoor loop. Die babahondjies in die woonstel buite het ook geblaf. “Buiten die voetstappe was daar ‘n geluid soos vet wat in ‘n vuur braai. Ons het wakker gebly tot 03:30. So by 02:00 het die polisie verbygery met hul flikkerende ligte. Ons hou van die manier waarop die buurtwag ry, want hulle skyn hulle ligte reg in die erf in. Ek kon hulle nie kontak nie, want my selfoon met al die nommers op, is gesteel,” sê mnr. Venter.
Hierdie keer het hulle wakker geword, omdat hul slaapkamervenster nie oop was nie.
“Die dag ná die huisbraak was my mond verskriklik droog en my vrou se neus het gebrand, iets wat nie normaalweg gebeur nie. Van nou af slaap ons met toe vensters. Maar ons is dankbaar dat ons nie wakker geword het nie, want dan was ons seker doodgemaak,” sê Venter. Hulle het intussen voorsorgmaatreëls getref vir die beveiliging van die motor, wat nie in ‘n toesluit motorhuis staan nie.
“Dit is regtig ‘n toestand. Ek weet van nog vier huise in die omgewing wat ook deurgeloop het. Ek wil ook graag die publiek maan om seker te maak dat, wanneer hul ruite toe is, die knoppie styf vas gedraai is,” sê Venter.
Kaptein Ndwamato Vele van die Makhado SAPS het Dinsdag gesê dat hulle die afgelope naweek as baie stil beleef het, in teenstelling met baie huisbrake vroeër die maand.
“Daar was hierdie naweek nie baie huisbrake of diefstal uit motorvoertuie nie, maar wel gewone roof,” het Vele gesê. Die areas waar mense beroof was, was tussen Ayob Motors, oor die N1 en tot by Bridge Motors, asook vanaf die toeriste inligtingsentrum tot by Safari Motors.
Wat die brand of spuit van ‘n stof om mense te laat slaap betref, het Vele gesê dat die polisie nie oor inligting beskik nie. “Ons het wel daarvan gehoor rondom 2008 en 2009, maar het geen inligting en ondervinding daarvan nie. Ons het wel vaste bewyse en arrestasies van diewe wat met ‘n afstandbeheer ‘n voertuig se afstandbeheersein kanselleer. Ons maan mense om baie seker te maak hulle voertuig is gesluit as hulle van ´n afstandbeheer gebruik maak,” het Vele gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
