

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 October 2011
Inwoners van Louis Trichardt is byna tot dagbreek Sondagoggend, 25 September, wakker gehou deur oorverdowende musiek vanaf die munisipale skougronde.
Vir inwoners van Eltivillas was dit die laaste strooi. ´n Paar van hulle oorweeg nou ‘n petisie teen die Makhado Munisipaliteit om hulle te verhoed om toestemming te gee vir soortgelyke lawaaierige kuiersessies. Een dorpenaar het selfs gesê hy is bereid om ‘n hofinterdik aan te vra teen die hou van sulke geleenthede.
Inwoners wat by die polisie gaan kla het, het ook geen geluk gevind nie. Hulle is bloot meegedeel dat dit die munisipaliteit se probleem is, maar die munisipale verkeersafdeling het opsigtelik in hul afwesigheid geskitter. Dit is duidelik dat daar verwarring tussen die munisipale owerhede en polisie bestaan oor wie nou eintlik klagte rondom rusverstoring moet polisieer.
Maar wie was verantwoordelik vir al die lawaai?
Volgens munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi was dit ‘n kuns- en kultuurfees ter viering van Erfenisdag op 24 September. Hy het bevestig dat hulle die Vhembe Distriksmunisipaliteit toestemming gegee het om die fees tot middernag Saterdagaand aan te bied.
Op ‘n vraag waarom die geraas nie om middernag opgehou het nie, het Bobodi gesê hy weet nie, maar dat hy ondersoek sal instel.
Makhado polisiewoordvoerder kapt. Ndwamato Vele het op sy beurt ook gesê dat hy sal ondersoek instel waarom die polisie versuim het om aandag te skenk aan inwoners se klagtes. Hy het dit duidelik gestel dat die polisie wel by magte is om op te tree teen lawaaimakers en selfs boetekaartjies kan uitreik.
Vele het bygevoeg dat die munisipaliteit versuim het om hulle in te lig van die feesvieringe en wat die bepalings van die toestemming was ten opsigte van wanneer die fees veronderstel was om klaar te maak. Sou hulle bewus gewees het daarvan dat die fees veronderstel was om middernag te eindig, sou dit, volgens Vele, makliker vir hulle gewees het om op te tree.
“Die feit bly egter daar was ‘n geraas,” het Vele gesê met verwysing na die definisie van rusverstoring.
Soos in die geval van landswette, is daar ook “wette” wat inwoners se optrede teenoor mekaar reguleer. Hierdie is egter nie wette in die ware sin van die woord nie, maar munisipale ordonnansies. Die Makhado Munisipaliteit het wel ‘n ordonnansie met betrekking tot rusverstoring.
Dié munisipale ordonnansie, getiteld Versteuring van Openbare Rus, verskyn onder hul Straat en Diverse ordonnansies en lees onder meer dat geen persoon die openbare rus sal versteur in ‘n straat of openbare area, of op ‘n privaat perseel, deur geraas te maak deur te skreeu, te baklei, te sing, ‘n musikale instrument te speel, harde musiek te maak of gewelddadig of immoreel op te tree nie. O ja, daar is ook ‘n stewige boete van R2 000 of gevangenisstraf van nie langer nie as ses maande vir diegene wat skuldig bevind word aan rusverstoring.
Maar word hierdie ordonnansies nog toegepas? Nie een enkele geval kon gevind word waar ‘n inwoner suksesvol van rusverstoring aangekla en vervolg is nie. Tog, sê Bobodi, beskik die munisipaliteit oor ‘n desibelmeter wat gebruik word om te bepaal of ‘n lawaai die toegelate perk van 85 desibels oorskry. Hy het weereens inwoners uitgenooi om hul beheersentrum te skakel indien hul probleme met rusverstoring ondervind. Die adres van die perseel vanwaar die geraas gemaak word, moet verskaf word. Die verkeersbeampte aan diens sal dan met sy/haar eerste besoek die oortreders vriendelik versoek om hul geraas te staak of musiek sagter te sit. Indien die geraas egter voortduur, moet die beampte weer die perseel besoek, dié keer om ‘n lesing te neem met die munisipaliteit se desibelmeter
Die munisipaliteit se beheersentrum in Eltivillas kan geskakel word by tel. 015 516 2990/6.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
