

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 October 2011
Die voormalige polisiehoof van Limpopo, luitenant-generaal Amon Mashigo, moes voorverlede week ingryp toe ‘n welbekende sakeman van Louis Trichardt in die Makhado Polisiestasie se aanhoudingselle toegesluit is.
Mashigo se intrede het gevolg nadat plaaslike polisiebeamptes glo geweier het om Martinus Jacobus Oosthuyse (47), beter bekend as Inus, vry te laat ten spyte van ‘n Hooggeregshofbevel. Daar is ook sprake dat polisiemanne rassisties opgetree het teenoor Oosthuyse se regsverteenwoordigers toe dié probeer het om borg vir hom te reël.
Oosthuyse moes verlede Donderdag (22/09) die nag agter tralies deurbring, nadat hy na bewering die reg in eie hande geneem het en drie Zimbabwiese mans, wat hy vermoed het by sy besigheid ingebreek het, agter sy bakkie vasgemaak en oor die grond gesleep het. Vier van Oosthuyse se werkers en sy seun, Tinus (24), is ook later in verband met die beweerde voorval in hegtenis geneem. Daar is sprake dat die drie mans ook aan ´n boom vasgebind is en met pype aangerand is.
Volgens Oosthuyse se prokureur, me. Steffie van der Westhuizen, het haar kliënt se drama verlede Donderdag begin. Die ondersoekbeampte in die saak het hom glo geskakel en gevra hy moet inkom omdat “iemand ‘n klag van aanranding teen hom gelê het.”
Met sy aankoms by die polisiestasie is Oosthuyse glo summier gearresteer en in die aanhoudingselle geboender. Dit was teen ongeveer 18:00 gewees. Teen 22:00 het Van der Westhuizen vergeefs probeer om borg vas te stel en is sy toegang tot Oosthuyse geweier. Daar is toe ooreengekom dat Oosthuyse die volgende dag na die hof gebring sal word vir ‘n formele borgaansoek.
Van hierdie ooreenkoms het daar egter niks gekom nie. Teen 12:00 die volgende dag het nog Oosthuyse, nog enige van sy werkers in die hof verskyn. Dit het Van der Westhuizen genoop om inderhaas aansoek te doen by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria vir ‘n hofbevel vir Oosthuyse se vrylating.
Ten spyte van dié bevel is Oosthuyse eers Vrydag om 22:45 vrygelaat, nadat Mashigo die stasie beveel het om hom te laat gaan.
“Die beamptes in die aanklagkantoor het in my gesig gelag en die bevel op die grond neergegooi,” het Van der Westhuizen gesê. Een polisiebeampte het glo so ver gegaan om vir die advokaat te skreeu dat hy ‘n “f#^%king white racist” is.
Oosthuyse en sy vier werkers, Rodger Chikadzi, Gift Machipisa, David Mapiye en Gilbert Sikhokho Muthelo, het Maandag in die hof verskyn op klagte van poging tot moord, ontvoering en aanranding. Die polisie het nie borg teengestaan nie en Oosthuyse se borg is vasgestel op R1 000. As deel van sy borgvoorwaardes mag hy geen kontak hê met enige staatsgetuies nie. Die polisie se versoek dat hy twee keer ´n week by die stasie moet aanmeld en sy paspoort inhandig, is deur die hof van die hand gewys. Dit nadat die hof bevind het hy is nie ´n vlugrisiko nie.
Tinus het Dinsdag in die hof verskyn op dieselfde klagte as sy pa. Hy is ook R1 000 borg toegestaan. Die ander vier beskuldigdes se borgaansoek is uitgestel tot Vrydag, 30 September.
Provinsiale polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Ronel Otto het Woensdag bevestig dat die beweerde aanranding van die drie mans ondersoek word. Sy het bygevoeg dat die polisie tans soek na die lyk van een van die drie mans wat na bewering weens sy beserings beswyk het. Rondom die beweerde onprofesionele optrede van die polisiebeamptes teenoor Van der Westhuizen het sy die mening uitgespreek dat die ondersoekspan nog besig was met die uitwys van tonele en daarom nie dadelik vir Oosthuyse na die hof kon bring nie.
Een van die klaers in die saak, wat nie geïdentifiseer kan word alvorens hy ook in die hof verskyn het nie, moes mediese behandeling ontvang. Die tweede klaer is tans nog soek.

ADVERTISEMENT:
