ADVERTISEMENT:

 

Die 60-sitplek bus, wat volgens berigte 88 mense vervoer het, waar dit in ´n sloot langs die pad net buite Siloam verongeluk het.

Streek se paaie eis 22 in 24 uur

 

News  Date: 03 October 2011

 

Dit was ‘n slagting op Limpopo se paaie die afgelope week, met 22 mense, waaronder ses kleuters, wat binne ´n kwessie van 24 uur in drie aparte gru-ongelukke dood is. Nog 12 mense is ernstig beseer tydens die ongelukke.

Dié ongelukke kom pas nadat die provinsiale LUR vir Paaie en Vervoer, me. Pinky Kekana, aangekondig het dat haar departement nagenoeg 850 kaartjies uitgereik het en 16 busse, 52 minibussies en vyf vragmotors geskut het.

In die eerste ongeluk is ses kleuters en een volwassene dood, nadat die bus waarin hulle verlede Donderdag (22/09) gereis het net buite Siloam omgeslaan het. Die 60-sitplek bus, wat volgens berigte 88 mense vervoer het, het van Ha-Khathu vertrek na Pretoria vir ‘n skooltoer.

Volgens provinsiale polisiewoordvoerder brig. Hangwani Mulaudzi het die bestuurder van die bus vermoedelik beheer verloor op ‘n draai in die pad, waarna die bus omgeslaan het in ‘n sloot langs die pad. Die bus het naelskraap ‘n groepie rondawels gemis. Die ongeluk het ongeveer 03:00 plaasgevind. Vyf kinders en een vrou is op die ongelukstoneel dood, terwyl nog ´n kind in die hospitaal oorlede is.

Die tweede ongeluk, later daardie selfde dag, het die lewens van nege mense geëis. Volgens die Limpopo Departement van Paaie en Vervoer het ‘n bus tromp-op met ‘n minibus gebots buite Northam naby Thabazimbi. Die bestuurder van die bus het glo uitgeswaai in die baan vir aankomende verkeer, nadat iemand voor hom skielik gerem het. Onder die oorledenes was die bestuurder van die minibus, terwyl die bestuurder van die bus ligte beserings opgedoen het.

Vrydagaand, in die derde ongeluk, is vyf matriekleerlinge onerkenbaar verbrand in ‘n ongeluk naby Tzaneen. Matrieks, van verskillende skole, het ‘n minibus gehuur om hulle van ‘n matriekdans huistoe te vervoer. Tussen Tzaneen en Nkowankowa het die bussie in vlamme uitgebars nadat dit tromp-op met ‘n sedan gebots het.

In al drie gevalle ondersoek die polisie sake van strafbare manslag. Die name van al die slagoffers was teen druktyd nog nie bekend gemaak nie.

Die ongelukke het plaasgevind, twee weke voor ‘n vergadering wat Kekane met die taxi- en busoperateurs vir 6 Oktober geskeduleer het. Volgens die departement se woordvoerder, mnr. Thesan Moodley, sal die veilige vervoer van skoolkinders hoog op die agenda wees. Hy het ook bevestig dat Kekana, as deel van ‘n nasionale openbare vervoer handhawing program, verkeersbeamptes beveel het om padblokkades uit te voer op al die roetes wat die provinsie binnekom of verlaat. As deel van hierdie program sal daar ook gefokus word op die geskiktheid van voertuie, bestuurderfiksheid, vragbestuur en dokumentasie.

“Die minister het ook opdrag gegee dat al die busse wat onder die departement se subsidieskema val vir padwaardigheid getoets word. Ons sal ook na al die busdepots en taxistaanplekke gaan om die voertuie te toets. Onpadwaardige voertue sal geskut word of op beslag gelê word,” het Moodley gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines