

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 October 2011
Die Soutpansberg Dorpswag in Louis Trichardt het hul patrollies in die Wolmaransstraat-omgewing verskerp. Dit volg ná drie misdaadpogings by een perseel, met duidelike olievoetspore ná die laaste poging.
Gedurende September het mnr. en me. Pieter en Alida Venter van Wolmaransstraat ‘n huisbraak, ‘n diefstal uit ‘n voertuig en ‘n geval van betreding van hul erf beleef. Die laaste geval het plaasgevind in die vroeë oggendure op Maandag, 26 September. Die egpaar het iets hoor beweeg buite by die sementstoep waar hul motor geparkeer staan. Die motor het ‘n effense olielek en was meer na agtertoe geparkeer as gewoonlik, sodat die olielek sigbaar was. Die volgende oggend het hulle duidelike voetspore op die sement gevind soos wat die persoon met kaalvoete in die olie getrap en rondbeweeg het.
Mnr. Riaan Volschenk , ‘n groepleier van die dorpswag in Charlie sektor, het die voetspoor ondersoek tydens ‘n besoek aan die Venters. “Hulle is baie skelm en weet presies wat hulle doen. Hulle dra nie skoene nie sodat die skoenspore nie vergelyk kan word met dié wat op ‘n ander toneel gevind word nie,” het Volschenk op 3 Oktober gesê.
Kaptein Ndwamato Vele van die Makhado SAPD het verlede week gesê dat die honde-eenheid wel ‘n skoenspoor, wat op grond agtergelaat is, kan lig vir latere vergelyking. “Ons konsentreer nou baie in daardie gebied, sodat die misdadigers ‘n skuif moet maak,” sê Volschenk.
“Die dorpswag is vir ons ‘n riem onder die hart. Pas nadat die berig oor die inbrake by ons huis verskyn het, het Riaan kom sit en alles uitgevra en na die spore gekyk. Hy het sy mense opdrag gegee om elke keer in ons erf in te lig as hulle patrolleer. Dit beteken vir ons geweldig baie, "sê die 74-jarige mnr. Venter.
Mnr. Dirk Meissenheimer, voorsitter van die dorpswag, het hierdie week gesê dat hy dankbaar is dat die Venters weer ´n selfoon het en die nodige selnommers gekry het.
"Misdadigers is tans oral redelik aktief. Dit neem toe, maar ons kan nie ‘n tendens bepaal nie, want dit is in die dag en in die nag, in residensiële areas sowel as in besigheidgebied. Wees skerp en let op. As jy iets snaaks sien, rapporteer dit,” sê Meissenheimer en beklemtoon dat die dorpswag in noue samewerking met die sektor misdaadforum en die polisie werk.
Die dorpswag het egter dringend meer lede nodig om te patrolleer.
“Ons het tans 120 lede, maar ons het meer lede nodig om die las op elke lid ligter te maak. Ons verwelkom enige hulp,” sê Meissenheimer.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
