

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 October 2011
‘n Gesellige familiebraai by die Albasinidam het Sondag, 2 Oktober, tragies geëindig.
Me. Leonora Louwrens en haar lewensmaat, mnr. Willem Venter, het saam met hul dogters, Nicole en Sharon, by familie by die Beja Hengelparadys gebraai.
‘n Familievriend, mnr. Douw van Tonder, het Woensdag vertel dat Willem die braaiwerk gedoen het. In ‘n stadium wou hy bietjie gaan afkoel in die swembad sowat 100m vanaf die braaiarea. Hy het in sy bakkie geklim en na die swembad gery. Na ‘n vinnige afkoel het hy weer in die bakkie geklim en besluit om teen ‘n styl grondwal met die bakkie uit te ry.
Willem was byna bo-op die wal toe die bakkie skielik begin gly het. Hy het remme aangeslaan, maar kort daarna het die bakkie omgekantel en op sy sykant te lande gekom.
Familie wat gesien het wat gebeur het, het nader gehardloop. Willem het uitgeklim en hulle gerusgestel dat hy nie seergekry het nie. Dit was toe dat familie hom meedeel dat dit nie hy is waaroor hulle bekommerd is nie, maar wel die vyfjarige Nicole.
Soos die noodlot dit wou hê, het klein Nicole haar stiefpa na die swembad gevolg. “Sy was haar stiefpa se skaduweetjie,” het Douw vertel. Nicole het agter op die bakkie geklim, sonder dat Willem daarvan bewus was.
Met die bakkie se omslaan, het Nicole ernstige kopbeserings opgedoen. Sy is inderhaas na Louis Trichardt gejaag vir mediese behandeling. Sy het egter Maandagoggend weens haar beserings in die provinsiale hospitaal in Polokwane beswyk.
Teen druktyd was die uitslag van die nadoodse ondersoek om te bepaal wat klein Nicole se beserings veroorsaak het, nog nie bekend nie. Finale begrafnisreëlings was ook nie beskikbaar nie.
Die tragedie het die familie platgeslaan.
"Ons liefste dogtertjie, met fyn-fyn spoortjies het jy deur ons lewe gehuppel. Groot liefde het ons deur jou leer ken. Jou maklike laggie, soos engelklokkies, het ons huis verwarm. Vir jou geleende tyd aan ons, sê ons innig dankie aan ons Hemelse Vader. Ons familiekring sou soveel armer gewees het sonder jou. Ons mis jou, Nicole, jou plekkie is leeg, jou stemmetjie stil… “ is die briewe aan Nicole wat die familie gereed kry vir die begrafnis.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag bevestig dat die saak ondersoek word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
