ADVERTISEMENT:

 

Die nuwe roterende voorsitter van die SBBV, me. Inga Gilfillan.

Nuwe voorsitter, nuwe dryfkrag agter dispuut

 

News  Date: 17 October 2011

 

Nuus van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging is dat die dispuut met die Makhado Munisipaliteit nog lank nie bygelê is nie.

Die nuwe roterende voorsitter van die SBBV, me. Inga Gilfillan, het hierdie week gesê dat die vereniging die dispuut opnuut dryf sodat “belastingbetalers dit laat gebeur dat dienste gelewer word en beloftes uitgevoer word.”

“Om dienslewering soos water, riool, elektrisiteit en paaie op ‘n aanvaarbare vlak te kry, is die doel van die SBBV. Die erfbelasting is die vyfde en belangrikste fokuspunt van die vereniging. Hierdie sake is nie opgelos nie, ten spyte van beloftes,” sê Gilfillan. Die SBBV het amptelik in Augustus 2008 ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar om ´n gebrek aan dienslewering, finansiële en administratiewe wanbestuur, sowel as die waardasierol en onregmatige verhoging van heffings aan te spreek.

‘n Vergadering met die munisipale bestuurder oor die dispuut was geskeduleer vir Maandag, 3 Oktober. Die tyd en datum is deur die munisipaliteit gekies. “Die SBBV was daar met regsverteenwoordiging, waarvoor betaal word, maar die vergadering is uitgestel na die einde van die maand en ons wag vir ‘n datum van die munisipaliteit,” sê Gilfillan, ontstoke oor die vermorsing van kosbare tyd en bronne.

Gilfillan gee wel kriediet aan die munisipaliteit dat die dorp by tye skoner en netjieser lyk en dat ‘n poging met die paaie aangewend word. “As ‘n onderhoudsprogram egter so ver agter is, dan haal jy dit moeilik in. Die SBBV is ‘n noodmaatreël om totale verval in ons mooi dorp teë te werk. Gaan kyk maar na dorpe waar die gemeenskappe nie self opstaan en hande vat nie,” sê Gilfillan.

Gilfillan is die tweede roterende voorsitter en volg mnr. Chrisjan van den Berg op. Die SBBV het besluit om die voorsitterstoel elke drie maande tussen die bestuurslede te roteer. “Dit is ‘n harde en verantwoordelike taak wat baie tydsbesteding sonder vergoeding verg. Elke bestuurslid is ten nouste betrokke by die bestuur, daarom vind die rotering maklik plaas,” sê Gilfillan.

Gilfillan sê dat sommige lede gewonder het wat sou gebeur as die dispuut tot ‘n einde sou kom, veral ten opsigte van die lede se geld in die trustrekening.

“Die lede se rekeninge moet almal gerekonsilieer word. Rekeninge is reeds tot op datum deur die ouditeure van die trustrekening hanteer. Verder het die SBBV reeds R15 000 begroot sodat elke rekening onafhanklik gerekonsilieer kan word en die proses het reeds ‘n aanvang geneem. Indien die lede sou besluit dat die dispuut opgelos is, kan al die rekeninge binne ‘n kort tyd volledig uitgeklaar wees. Ons is ook dankbaar dat ons kon beding het dat die munisipaliteit in hierdie stadium die lede se rente terugskryf,” sê Gilfillan.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines