

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 November 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die jeugdige Johan Serfontein van Louis Trichardt, wat die lewens van talle mense positief aangeraak het met sy blymoedigheid, te midde van 'n jarelange stryd teen kanker, word Vrydag (7 November) in die Serfontein-familieplaas op Kroonstad begrawe. 'n Roudiens is Woensdag op Louis Trichardt gehou.
Die 12-jarige seun van Ds. Dawid en mev. Retha Serfontein van die Louis Trichardt Gereformeerde gemeente, is Sondag (2de) net na 10:00 in die Unitas Hospitaal in Pretoria oorlede. Sy ouers was by hom. Dit was presies, op die dag, drie jaar nadat klierkanker by hom gediagnoseer is, op 2 November, 2000. Johan het in Oktober 2000, vier maande nadat die gesin hulle op Louis Trichardt gevestig het, begin siek word. Na die diagnose moes hy gereeld in Pretoria behandeling ontvang, en was by tye weke lank daar. Na maande se intensiewe chemoterapie, moes hy 'n beenmurgoorplanting ondergaan. Die gesin moes vir die doel vir etlike maande na Kaapstad verhuis. Johan was van 21 April tot 13 Mei 2002 in die beenmurgeenheid van die Constantia Medi Kliniek vir die oorplanting. Sy sussie Marié, die egpaar se enigste ander kind, was die skenker.
Oor sy ervaring van die oorplantingsoperasie het Johan indertyd in die nuusbrief van CHOC, die ondersteuningsgroep vir ouers van kinders met kanker, geskryf: "As 'n mens 'n hoë- risiko pasiënt is en massa doserings chemo gekry het, dan is die beenmurgoorplanting eintlik nie so erg nie … Soos met gewone chemo val 'n mens se hare ook uit. 'n Mens moet maar weet dat jy lekker naar gaan word. Jy moet ook weet dat jy 'n neusbuis gaan kry. Die insit van die neusbuis maak 'n mens baie naar en dit vat 'n rukkie. Dan moet 'n mens ook onthou dat jy baie, baie neusbloedings gaan kry, maar gelukkig het hulle spesiale druppels wat jou neus laat stol … Gelukkig is die verpleegsusters ook baie vriendelik en gaaf." Hy eindig die brief: "Die enigste manier wat 'n mens dit kan uithou, is om aan God ons Vader vas te hou en te vertrou en tot Hom te bid. Maar ons moet ook uit ons eie positief wees en positief dink."
Hierdie positiwiteit was 'n kenmerk waarmee Johan depressiewe medepasiënte help onderskraag het. Volgens sy ouers was hy 'n diep gelowige kind, wat die Bybel mooi verstaan het en 'n mooi, naby verhouding met die Here gehad het. Hy was uit die staanspoor goed ingelig oor sy siektetoestand en al die risiko's daaraan verbonde.
Na die oorplanting het Johan se toestand verbeter. Hy moes nog gereeld chemoterapie ontvang en was by tye ernstig siek, maar tussendeur was hy terug in die skool. Met die voltooiing van die chemoterapie in Mei vanjaar, het hy die laaste vyf maande 'n tydperk van ongekende gesondheid beleef en was hy sy lewenslustige en vrolike, positiewe self, met 'n lewendige belangstelling in natuurwetenskappe, rekenaars en programmering.
Hy het graag elektroniese stroombaantjies gebou en belanggestel in chemiese eksperimente. Hy was besonder geheg aan sy skoolmaats en het hom voluit uitgeleef by die skool. Johan is onlangs gekies as prefek by Laerskool Louis Trichardt, waar hy 'n Graad 6-leerling was. Hy het ook in die skool se onlangse skoolkonsert opgetree en was besonder geesdriftig oor rugby, visvang en jag. Dit was vir hom 'n buitengewone hoogtepunt toe hy in 2001 deur die bemiddeling van Reach for a Dream saam met die Springbok Rugbyspan op Loftus Versfeld kon verskyn voor hul wenwedstryd teen die Wallabies. Hy kon met groot genoegdoening sy plek langs Bob Skinstad inneem, al moes hy na die wedstryd weer terug hospitaal toe.
Verlede week het Johan skielik siek geword. Hy is Vrydagoggend nog skool toe, maar sy toestand het vinnig verswak. Na aanvanklike plaaslike behandeling is hy afgevoer na Pretoria, waar hy in die intensiewesorgeenheid van die Unitas hospitaal opgeneem is. Die siekte was voluit terug en wyd verspreid en kon nie nog weer behandel word nie.
"Te midde van die ondersteunende behandeling het hy Vrydag en Saterdag gerus. Hy was in sy laaste ure rustig en het nie pyn gehad nie," het Ds. Serfontein vandeesweek in 'n onderhoud gesê.
Oor die verloop van Johan se siekte is sy gesinslede dit eens: Dit was 'n lang pad. Maar juis as gevolg van die siekte, was dit 'n ryk lewe saam met hom. "Ons het moeite gedoen om hom die dinge te laat doen wat vir hom lekker was. In die proses het hy baie mense se lewens geraak."
"Ons het saam met hom geweet, gesien en beleef dat die Here genees. Ons het ook saam die berusting dat ons tye in Sy hand is. Hy het vir ons drie perfekte jare afgemeet."

ADVERTISEMENT:
