

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 October 2011
Die toestand van die munisipale skut op Louis Trichardt het die afgelope ruk erg onder skoot gekom.
Diere, meestal beeste, wat na die skut gebring word, moet glo in haglike toestande met ‘n karige hoeveelheid water en weiding oor die weg kom. Daarbenewens word hulle ook aan hulle eie lot oorgelaat.
‘n Besoek aan die skut het ook aan die lig gebring dat dié diere nie teen bosluise behandel word nie. Daar was ‘n donkie wat in die skut gevul het en agt beeste wat tydens dié besoek in die krale probeer wei het aan die stompies gras. Volgens ‘n opsigter was daar nog ‘n trop beeste wat aan die agterkant van die krale in die vlei gewei het. Daar is glo ‘n dam in die vlei waar die beeste kan suip.
Dié toedrag van sake is ´n teer punt vir die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV).
“Hulle [die munisipaliteit] gee nie om nie,” het senior diere-inspekteur Lawrence Khodobo verlede week aan die Zoutpansberger gesê. Volgens Khodobo probeer die DBV al vir ‘n geruime tyd om tot ‘n verstandinghouding met die munisipaliteit te kom wat betref die beheer van die skut.
“Wat die munisipaliteit nie besef nie, is dat hulle vervolg kan word as ‘n dier ly,” sê Khodobo. Volgens hom wil dit tans voorkom asof rondloperdiere deur die verkeersafdeling geskut word en dan aan hulle eie lot oorgelaat word. “Verkeersmense is nie opgelei om met diere te werk nie. Dit is so goed hulle vra my om verkeerskaartjies uit te skryf.”
Khodobo het die Nasionale DBV se skutregulasies aangehaal, wat voorskryf dat ‘n dier net vir 21 dae lank in ‘n skut aangehou mag word. Volgens hom weet hy van gevalle waar diere vir meer as twee maande in die skut aangehou is.
Die regulasies skryf voor dat diere vrye toegang na skoon water- en kosbakke moet hê. Diere wat nog afhanklik is van die moeder moet van surrogaatmelk voorsien word, indien die moeder nie genoeg melk het nie. Iets wat baie belangrik is, is ‘n gekwalifiseerde skutmeester wat in beheer is.
Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het Dinsdag in antwoord op ´n navraag ontken dat diere by die skut mishandel word. “Daar is munisipale amptenare wat vir die diere sorg,” was sy kommentaar. Hy het verder gesê dat daar tans altesaam 34 diere in die skut is. Na 21 dae sal ‘n veiling geadverteer word indien die eienaar nie sy diere kom haal en ‘n boete betaal nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
