ADVERTISEMENT:

 

generic image

DA-lede plekke kwyt weens bedrog

 

News  Date: 17 October 2011

 

Die Demokratiese Alliansie het na afloop van ´n dissiplinêre verhoor rakende verkiesingsbedrog twee van hul raadslede in die Makhado Munisipaliteit vervang.

Die DA beklee vyf setels in die Raad, waarvan een ‘n wyksetel is wat deur DA-raadslid Brian du Plooy beklee word. Die ander vier setels word beklee deur proporsioneel-verteenwoordigende raadslede. Hierdie setels word aan DA-verkiesingskandidate toegeken vanuit ‘n lys wat die kandidate se posisies aandui.

“Twee lede was nie tevrede met hul posisie op die proporsionele verteenwoordigingslys nie. Daar is op onreëlmatige wyse aan die lys verander. Dit is ‘n lys wat deur die Federale Raad van die DA goedgekeur word. Nadat die lys onreëlmarig verander is, is die fiktiewe lys ingedien by die onafhanklike verkiesingskomitee. Dit was bedrog,” het die provinsiale leier van die DA en lid van die provinsiale wetgewer, me. Desiree van der Walt, gesê.

Op die “fiktiewe” lys wat by die Onafhanklike Verkiesingskomitee voor die munisipale verkiesing op 18 Mei ingegee is, het mnre. Kenny Maboho en Jerry Mahwai derde en vierde verskyn, terwyl hulle regmatige posisie sesde en tiende was. Maboho en Mahwai is as raadslede ingehuldig saam met Du Plooy en raadslede Annette Kennealy en Zaheera Joomah.

“Nadat die uitslag van die dissiplinêre ondersoek bekendgemaak is, is die betrokke raadsledese se lidmaatskap van die party opgehef en hulle kan dus nie meer ‘n setel namens die party beklee nie,” het Van der Walt gesê.

Mnre. Rexon Madzavandila en Itani Sakhwari sal as DA-raadslede ingehuldig word saam met die ANC-wyksraadslede wat in die munisipale tussenverkiesings op 5 Oktober verkies is, asook die proporsioneel-verteenwoordigende raadslede wat vervang is omdat hulle bedank het. Die meeste raadslede het bedank omdat hulle nie kans gesien het om hul permanente betrekkings prys te gee nie.

In die munisipale tussenverkiesing het die ANC wyk 4,10,11,15 en 38 van die Makhado Munisipaliteit gewen. In al hierdie wyke het die vorige ANC-raadslede bedank. Hierdie vyf wyke is deel van agt uit die nege wyke wat die ANC in Limpopo gewen het. Die DA het een wyk ingepalm, wyk 31 van die Mogalakwena Munisipaliteit in Mokopane.

Die DA sê dat dit die tweede keer is dat hulle ‘n Limpopo wyk van die ANC in ‘n tussenverkiesing afneem. Die vorige keer was in 2009 toe die DA wyk 16 van die Musina Munisipaliteit gewen het. In die verkiesing in Mei vanjaar is die DA se kandidatelys laat ingegee en die DA kon geen kandidate plaas om hul wyk te verdedig nie. Die wyk is deur die ANC teruggeneem.

“Die dissiplinêre ondersoek wat die Musina geval betref, is lank en ingewikkeld en is nog nie afgehandel nie,” het Van der Walt gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines