ADVERTISEMENT:

 

Die puntjie van ‘n koei se horing word aan die punt van sy skepping geplak, en die hele affêre word met Bodyfilla bedek. Nadat dit in die son droog geword het, skuur hy dit glad met skuurpapier. ’n Laag swart Gun Gum volg – dié word in die son grys. Foto: Foto24.

’n Renosterhoring? Ek maak hom tjop-tjop ...

 

News  Date: 17 October 2011

 

Thando* word ryk van renosterhorings – nagemaaktes. Vir net R270 “maak” hy ’n horing in ’n agtermiddag, en verkoop dit dan teen tien keer soveel. JULIAN RADEMEYER kyk hoe dié swendelaar stropers en skollies bekonkel.

Thando (skuilnaam) vat versigtig aan die grieselrige inhoud van die swart sak. ’n Swerm vet vlieë styg vies van hul vonds op. Die reuk van verrotting suig die lug uit Thando se longe, en hy onderdruk die naar met ’n snak.

Met twee plastieksakke aan elke hand waag hy dit dieper die sak in. Wat ook al vroeër daarin was, is onherkenbaar.

Thando vroetel aan die hare en bene wat oorbly – seker dié van ’n hond, sê hy, en skroef sy neus teen die reuk. Hy grawe ’n handvol grillerigheid uit die sak en smeer dit aan ’n gedoente wat teen ’n boom leun. Dié, vertel hy, sal hy begrawe en wag totdat hy ’n koper daarvoor vind.

Thando is ’n swendelaar en smokkelaar. Hy sal enigiets probeer as daar geld op die spel is. Deesdae is sigarette sy ding: bokse en bokse daarvan, wat hy vir ’n appel en ’n ei in Zimbabwe koop en oor die Limpopo-rivier na Suid-Afrika smokkel. Dié verkoop hy in Pretoria – teen driekeer die prys.

Dis ’n riskante storie – hy moet strome, krokodille en wilde diere trotseer, ook die guma-guma, die booswigte in die bosse van die niemandsland tussen die twee lande.

Hulle eis ’n hoë tol by dié wat dit veilig deur hul wêreld wil waag. Hulle verkrag, steel, vermoor.

Vir dié wat die rivier en guma-guma oorleef, is die veiligheidsheining wat 260 km strek van Pontdrif tot die noordelike grens tussen die Krugerwildtuin en Zimbabwe nie juis ’n struikelblok nie. Coke-blikkies, Sprite-bottels en flertse lap wys watter roetes deur die verrinneweerde grensdraad gevolg is.

Thando is dikwels hier wanneer hy sy vragte tabak deur die bos begelei. Gewapende wagte, impi’s, vergesel die mense wat help dra. As daar bloed vergiet word, sal dit nie Thando s’n wees nie – daarvoor sal sy manne sorg. “Ek, ek kan nie doodgemaak word nie, Bra,” sê hy. “Ek is taai.”

Hy minag die regstelsel. “Jy kan almal en enigiemand omkoop. Geld praat. Musina is opgef*k, man. Ek gebruik ’n polisiemotor en ’n ambulans om te smokkel. Jy betaal die bestuurder; daar gaan jy met jou vrag: whie, whie, whie!”

Almal wat vinnig wil geld maak, is betrokke by die smokkel van sigarette of goud of diamante of mense, sê hy. Maar hy is anders. Of so wil hy glo. Want hy is ook doenig met iets anders, iets vindingryks.

By Al-Noor Motor Spares and Copperpot Body Parts op Musina lys Thando die voorraad wat hy benodig: Bodyfilla, Q-Bond, Superglue, Gun Gum-plaksel en skuurpapier. Dit kos R270 – met kleingeld.

Wanneer hy terug in Freedom Park is, stop hy langs ’n vervalle plakkershut. Van hier klim hy ’n koppie na sy “private plek”.

Thando pak sy gereedskap uit en prakseer dan ’n raam van klerehangers van draad. Hy vul ’n 500 mF-plastiekbottel met water en sand, en druk dit by die draadraam in. Hierna week hy ’n stuk karton in water, skeur dit in repies en druk dit sag, waarna hy die draadraam daarmee volstop.

Die puntjie van ‘n koei se horing word aan die punt van sy skepping geplak, en die hele affêre word met Bodyfilla bedek. Nadat dit in die son droog geword het, skuur hy dit glad met skuurpapier. ’n Laag swart Gun Gum volg – dié word in die son grys. Die final touch? ‘n Paar stukkies been en ’n bossie hare, alles afkomstig van ’n koei, word met Q-Bond en Superglue aan die basis vasgegom. Die hele proses duur vyf uur.

Thando hou die eindproduk in die lug – ’n pasgemaakte “renosterhoring”. Hy grinnik. “Ek red die renosters. Mense wil renosterhoring hê; ek maak vir hulle renosterhoring.”

Dis Thando se spesialiteit: hy draai misdadigers ’n rat voor die oë; buit hul gierigheid uit; misbruik hul vraag na dit wat (hulle glo) waardevol is. Teen die tyd dat hulle besef hy het hulle bedrieg, is hy weg met die geld. “Ek vra baie,” sê hy. “Dit hang af van hoe graag hulle dit wil hê. Ek het my vorige een vir R15 000 verkoop; voor dit een vir R25 000.”

Hy lag. “Die polisie kan my nie hiervoor vang nie, want ek probeer die diere beskerm.”

Eenmaal het hy vir twee stropers gesê hy sal die middelman in ’n transaksie wees, maar toe verkwansel hy die regte horing self en gee hulle een van sy nagemaakte horings terug. Toe hulle besef dis ’n liegstorie dat die koper belangstelling verloor het, was hy lankal vort.

Sy horings sou nie sommer in daglig die toets slaag nie. Maar Thando ken ál die truuks. Hy neem sy nuutgemaakte horing na ’n stortingsterrein, waar hy ’n dooie hond sien lê. Die horing word teen dié stinkende vlees gevryf en daarna in ’n plastieksak begrawe. Eers wanneer hy ’n koper opspoor, sal hy dit weer opdiep.

Thando sorg dat hy potensiële kopers altyd in die donker ontmoet. Hy bly naamloos, en die ontmoetings word deur ’n middelman gereël. Die polisie is altyd naby, en Thando hou sy teiken ’n rukkie dop voordat hy nader stap. Dié is teen dié tyd gespanne, haastig om weg te kom van die polisie wat kort-kort verby ry.

Dit gebeur vinnig: Thando glip by die motor in, die koper vra om die horing te sien, en Thando maak die sak oop. Die vrot reuk is oorweldigend.

“Hulle kyk nie goed nie; hulle wil dit net vat en wegkom, weg van die reuk en van die polisie,” sê Thando. “Hulle kan sien dis ’n horing; hulle sê net ‘Fine, fine, fine’ en gee die geld vir my. En dan is ek weg.”

Soms reël Thando dat een van sy polisiepelle die koper agtervolg en ’n ent verder arresteer. Die horing word aan Thando terugbesorg, en hy en sy pel deel die buit.

“Soms kom hulle terug vir nog wanneer hulle uit die tronk kom. Hulle dink ek het ’n regte horing aan hulle verkoop omdat hulle gevang en in die tronk gegooi is.

“Dis ’n speletjie, Bra, dis alles net ’n speletjie.” Artikel: By (Beeld) Deur: Julian Rademeyer

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines