ADVERTISEMENT:

 

“Ek gaan slaan sommer vir my ‘n tent op my seun se grasperk op,” sê me. Hester Venter van Herfsakker, nadat haar pensioen nou amper in sy geheel opgeslurp word deur hoë munisipale rekeninge.

Heffings eet hul pensioen op

 

News  Date: 17 October 2011

 

“Ek gaan slaan sommer vir my ‘n tent op my seun se grasperk op,” sê ‘n desperate pensionaris.

Daar is bejaardes van die Laat Lente en Herfsakker munisipale woonhuise op Louis Trichardt wie se pensioene nou amper in geheel opgeslurp word deur hoë munisipale rekeninge.

Die munisipale rekening van R984 wat tannie Hester Venter in September gekry het, laat ‘n skrale R176 oor om van te lewe. Die welsynstoelaag vir pensioenarisse is tans R1 160. Dit is die 82-jarige tannie Venter van Herfsakker se enigste inkomste. Een of twee maal per week kook sy kos en doen alles op een plaat. Verder is dit net die yskas wat krag gebruik.

Tot en met die Junie-rekening was tannie Venter se bedrag verskuldig so tussen R300 en R400 per maand. Dit sluit basiese elektrisiteit, vullisverwydering, huur van die munisipale behuising en die elektrisiteitsverbruik in. Gelukkig word die water gratis voorsien en beloop die munisipale huishuur slegs R36.85. Vanaf Julie het die jaarlikse verhoging van basiese tariewe ingeskop.

Die nuwe basiese elektrisiteitsheffing van R108 en vullisverwydering teen R34 is alreeds ‘n groot hap uit ‘n bejaarde se pensioen, maar toe kom die groot skok. Volgens die rekening van die Makhado Munisipaliteit het tannie Venter 894 eenhede elektrisiteit in September gebruik! Die eenhede was gewoonlik so tussen 200 en 400, maar in Augustus was dit meer as 700 en in September amper 900 eenhede.

“Dit is nie moontlik vir ‘n persoon in ‘n enkelwoonstel wat ‘n stoofplaat baie min gebruik, om soveel krag te verbruik nie,” sê haar dogter, me. Rina van Schalkwyk. Skoonseun Phillip van Schalkwyk het die hoofskakelaar afgeskakel en bevind dat die meter steeds aanhou hardloop. Die munisipaliteit is by herhaling in kennis gestel .

“Die persoon kom uit en vra vir my wat is fout met die kragboks. Daarna klim hy in sy bakkie en ry weer weg,” sê tannie Venter, met trane van magteloosheid in haar oë. Die Van Schalkwyks doen ‘n beroep op die gemeenskap om hulle te help met inligting en hulp rondom die wenslikheid om voorafbetaalde meters vir die bejaardes geïnstalleer te kry.

By navraag het die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê dat daar “aansoek gedoen moet word om ‘n meter te toets.” Die vrae rondom voorafbetaalde meters is aanvanklik geïgnoreer.

“Daar moet aansoek deur ons tegniese department gedoen word. Hulle moet na verskeie sake kyk, soos byvoorbeeld veiligheid. Die goedkeuring daarvan (voorafbetaalde meters) sal afhang van verskeie aspekte wat nagegaan moet word,” is die antwoord wat later ontvang is.

Aan die een kant is daar die probleem met die meter, maar aan die ander kant is daar die stygende elektrisiteitstariewe. Almal voel dit aan die sak, maar vir die bejaardes raak dit toenemend ‘n krisis. "Mens wil nie net altyd die kinders in die oë kyk nie, hulle sukkel ook maar self,” sê tannie Venter.

“Munisipale besture kan help met die armlastige-beleid wat gratis basiese dienste bied aan huishoudings wat dit nie kan bekostig nie,” skryf ‘n DA federale raadslid.

“Ek kan nie verstaan hoekom die dokumentasie nie geredelik beskikbaar is vir die ou mense nie. Ek is aangesê om ‘n sekere raadslid van die Makhado Munisipaliteit te skakel wie se foon net boodskappe neem. Niemand kom terug na ‘n mens nie,” sê Phillip.

“Die munisipaliteit help alreeds die mense. Hulle betaal 1% van hulle inkomste vir huur. Hulle betaal nie vir watergebruik nie. Hulle kry gratis stowe, kombuiswasbakke en ingeboude kaste,” was Bobodi se antwoord hierop. Alle vrae rondom die armlastige-beleid is ook aanvanklik geïgnoreer. Na verdere navrae is gesê dat die nodige vorms by die betrokke afdeling (indigent offices) beskikbaar is.

“Daar is geen afslag in tariewe nie. Mense kry hulp deur subsidies en daar is nie diskriminasie in tariewe nie,” het Bobodi gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines