

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 October 2011
‘n Omstrede “prokureur” wat onder ‘n wolk uit Louis Trichardt weg is, moes ‘n nag in die polisieselle op Hazyview deurbring.
Johanna Christina Opperman, of Christie soos sy alom bekendstaan, is in Hazyview gearresteer op ´n klag van bedrog. Sy moes verlede Dinsdagaand in die selle slaap, voordat sy voor die Distrikshof op Hazyview gebring is. Dit volg nadat sy glo geld van ‘n sakeman ontvang het vir ‘n eiendomstransaksie wat sy opgestel het in haar hoedanigheid as ‘n “prokureur.”
Mnr. Francois Bosch het vandeesweek vertel hoe Opperman hom na bewering ‘n rat voor die oë gedraai het.
Opperman het glo nie Bosch se oordragtransaksie vir die eiendom voltrek nie, maar steeds nagenoeg R100 000 in haar "trustrekening" ontvang. Die bedrag het Bosch se deposito en oordragkostes ingesluit. Dit was egter toe hy begin aandring het op bewyse van die werk wat sy al gedoen het, dat Bosch onraad vermoed het.
Opperman, sê hy, kon nie bewyse lewer van die transaksie nie en het hom steeds gepols vir nog geld. Dit als het sy gedoen handeldrywend as JC Opperman Prokureurs / Legal Services. Afskrifte van haar korrespondensie met Bosch en betalings wat sy van hom ontvang het, is in die Zoutpansberger se besit.
Daar is ook sprake dat sy na bewering die verkoper se handtekening vervals het.
Die ondersoekbeampte in die saak, kapt. Tepho Mashego, het Opperman se arrestasie bevestig. Hazyview se hofklerk het ook Dinsdag bevestig dat Opperman op R3 000 borg vrygelaat is. Sy moet weer op 24 Oktober in die hof verskyn.
Opperman is einde verlede jaar weg uit Louis Trichardt, nadat dit aan die lig gekom het dat sy nie ‘n volwaardige prokureur is nie. Die krake het begin wys nadat kliënte hier begin kla het dat sy geld in haar privaatrekening ontvang het om paroolaansoeke vir hulle te bring.
Die saak is by die Noord-Transvaalse Prokureursorde aangemeld. Hulle het bevestig dat Opperman se klerkskap reeds in 2007 verval het, nadat sy nie geslaag het in haar toelatingseksamen van die orde nie.
Opperman het destyds aan die Zoutpansberger gesê dat sy van plan is om teen die Prokureursorde te prosedeer. Hiervan het egter niks gekom nie, soos duidelik blyk in ´n skrywe wat Maandag van die Prokureursorde ontvang is in antwoord op medianavrae.
In die skrywe bevestig senior regsbeampte Jaco Fourie van die Orde dat Opperman nie as prokureur toegelaat is nie. Fourie het verder ´n beroep op die publiek gedoen om enige moontlike wanpraktyke van prokureurs, hetsy in die geval van Opperman of enige ander prokureur, by die Orde aan te meld. Die Orde sal dan hierdie sake/klagte in ag neem wanneer ´n prokureur heraansoek doen om as prokureur toegelaat te word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
