

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 October 2011
Die sakeman Dawie Groenewald en sy 12 medebeskuldiges is voorverlede Vrydag blitsig in die Musina Landdroshof aangekla van 1 872 klagte wat verband hou met beweerde grootskaalse renosterstropery.
Die klagstaat teen Groenewald, wat in twee dik volumes gebind is, is tydens dié verskyning by die hof ingedien. Hulle word onder meer aangekla van permit-oortredings, rampokkery, geldwassery, onwettige jag en die handel in en die verkoop van renosterhorings, asook oortredings van die Wet op Biodiversiteit en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad.
Daar is ook aanklagte wat verband hou met die onwettige besit en vervoer van olifanttande, pogings tot regsverydeling en die onwettige jag van ’n luiperd. Luidens die klagstaat is daar 185 mense op die staat se getuielys.
Die Zoutpansberger het ook betroubaar verneem dat die Staat in een geval glo sal kan bewys dat Groenewald ‘n renosterhoring geruil het vir geld en ander ware.
Na die aanklagte ingedien is, het die Staat ook hul saak teen twee van die beskuldiges, mnre. Josef Maluleke (39) en Leon van der Merwe (44), teruggetrek. Maluleke is in Oktober verlede jaar saam met Johannes Gysbert du Preez (31) in hegtenis geneem. Hulle is glo albei in diens van Groenewald.
Die ander beskuldigdes, Sariette (34), Groenewald se vrou, twee veeartse van Modimolle, Karel Toet (46) en Manie du Plessis (37), Toet se vrou Marisa (38), Nardus Rossouw (43), Tielman Erasmus (33), Dewald Gouws (25), Paul Matoromela (61) en Jacobus Marthinus Pronk (48), het ook Vrydag verskyn en staan nog tereg op die klagte.
Hulle hofsaak, wat nou na verwagting na die Hooggeregshof in Pretoria oorgeplaas sal word, is tot 24 April volgende jaar uitgestel.
Groenewald, wat die eienaar van Out of Africa Adventurous Safaris is, word volgens die klagstaat daarvan aangekla dat sy besigheidsaktiwiteite wettige en onwettige bedrywighede ingesluit het. Hy en sy medebeskuldigdes sou glo renosters onwettig onthoring, gejag en onwettig besit of verkoop het.
Die diereregtegroep, Mense vir die Bevryding van Diere, het ook Vrydag vreedsaam voor die hof betoog. Hulle het plakkate gedra wat Groenewald en drs. Toet en Du Plessis as renostermoordenaars uitgekryt het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
