

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 October 2011
Nuus van die moord op die 36-jarige Pieter Bezuidenhout van Potchefstroom die voorverlede naweek het ook as groot skok gekom vir inwoners van die Soutpansberg.
Pieter, of Pietz soos hy aan sy vriende bekend was, het in 1993 by Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer, waarna hy regte in Potchefstroom gaan studeer het. Sy pa Piet boer steeds op die plaas Boschoek op die Witvlag-pad, met sy suster Annari en eggenoot Werner wat op Levubu boer.
Alhoewel Pietz sy studies voltooi het, het hy nooit gepraktiseer nie. Volgens Annari het hy die studentelewe net te veel geniet. Hy het hom aangesluit by die O’Hagans-span op Die Bult in Potchefstroom, ‘n gewilde kuierplek vir studente. As deel van die bestuur daar was Pietz welbekend onder die studente.
Niemand weet wat presies Saterdagoggend gebeur het nie. Pietz is omstreeks 08:00 dood gevind in die oprit van die huis in Sitastraat, Potchefstroom, wat hy saam met vriende gedeel het. Hy het veelvuldige messteekwonde gehad en alhoewel daar geld by hom gevind is, was sy beursie en selfoon weg.
Polisiewoordvoerder op Potchefstroom sers. Karen Terdoux was versigtig om te veel te bespiegel. Sy het bloot die voorval bevestig en gesê dat die motief vir die moord nog ondersoek word.
Annari het Dinsdag by navraag gesê dat Pietz die vorige aand laat gewerk en daarna saam met vriende by die News Cafe gaan kuier het. Oppad huis toe het hy by ‘n vulstasie naby sy woning aangegaan om sigarette te koop. Volgens ‘n petroljoggie by die vulstasie het hy gesien hoe drie mans, karwagte na bewering, vir Pietz agtervolg het.
Pietz is vermoedelik omstreeks 04:00 die oggend vermoor. Volgens Annari het een van haar broer se moordenaars klaarblyklik ‘n oproep vanaf Pietz se selfoon gemaak rondom dieselfde tyd. Hierdie oproep en beeldmateriaal van die vulstasie se sekuriteitskameras is van die goeie leidrade wat die polisie opvolg.
“Daar is soveel vrae, mens kan dit net nie verstaan nie,” het Annari gesê.
Intussen is Pietz Woensdag op Louis Trichardt begrawe. ‘n Roudiens sal ook vir hom Vrydag in Potchefstroom gehou word. Hy word oorleef deur sy pa en suster.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
