

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 February 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - "Gaar" waterpype en krane op die Albasinidam-pypleiding mors duisende kiloliters water in 'n tyd waarin streng waterbeperkings geld en die gebied een van sy ergste droogtes beleef.
Op die plaas Palmietfontein, wat 10km buite die dorp op die Levubupad aan weerskante van die pad lê, het 'n stroom van sowat 500 tot 600 liter water per uur uitgestroom. Die probleem was dat die krane van die lugkamer van die Albasini-pypleiding onklaar geraak het. Die probleem het vir ongeveer ses maande aangehou. Munisipale werkers het herhaaldelik gepoog om die lekkasie reg te maak.
"Na twee of drie dae lek die krane maar weer," sê mnr. Willie Cronjé van die plaas Palmietfontein. Die water het so opgedam dat die beeste daar kom suip het. Hulle het later nie meer by die krippe water gesuip nie en kon nie in die opvangkraal ingekry word nie.
Mnr. Cronjé sê dat mnr. Gideon van Zyl van die munisipaliteit se ingenieursafdeling uiteindelik uitgekom het en vasgestel het dat die krane gedaan is. Nadat nuwe krane in twee van die lugkamers geïnstalleer is, het die probleem nou "opgedroog" en is Palmietfontein nie meer 'n moeras nie.
Mnr. Cronjé onthou nog toe die pyplyn vanaf die Albasinidam ongeveer 13 jaar gelede uitgesement is. Nou bars die pyp kort-kort en dit wil voorkom of die pyplyn heeltemal gedaan is.
Dr. Hennie Badenhorst en mnr. Jaco Wepener kla ook dat die pyp gebars het in die ingang wat hulle saam met mnr. Herman Scheepers gebruik.
"Die pyp is besig om gaar te raak," sê mnr. Wepener, nadat die gruis in die inrypad as gevolg van die gebarste pyp heeltemal weggetrap is. Hy sê dat die pyp diep onder die grond is, maar dat liters water vir 'n aantal weke bo die grond uitgesyfer het. Nadat dit herhaalde kere aangemeld is, is dit herstel toe 'n span uitgekom het om 'n reuse lek op mnr. Tok Barnard se plaas te herstel.
Dr. Badenhorst, van die plaas Vygeboomspruit, sê dat 'n munisipale beampte aan hom erken het dat die "pype vrot is". Dr. Badenhorst het die manier van regmaak, waar net 'n huls bo-oor gesit word, as tydelik bestempel. "Hulle sal die hele pyp moet vervang."
Intussen is dorpenaars ook ontsteld dat duisende kiloliters drinkwater uitgeloop het, terwyl hulle gebuk gaan onder drastiese waterbeperkings. Lede van die publiek het dit bestempel as 'n situasie wat grens aan belaglikheid dat kiloliters water gemors word, terwyl die gebied weens die droogte as rampgebied verklaar is. In die dorp is daar ook pype wat onklaar raak en water wat verlore gaan. Twee weke gelede is baie water vermors toe 'n pyp in Forestryweg probleme gegee het.
Mnr. Reuben Rambado (Munisipale Bestuurder) het vandeesweek gesê dat sodra 'n probleem op die pypleiding ontstaan, hulle vinnig inbeweeg en dit herstel op die operasionele en onderhoudsbegroting. Hy het gesê dat hy nie weet van 'n begrotingsitem vir die vervanging van die pypleiding nie, maar dat dit verwys word na die integrale ontwikkelingsplan en die departement van waterwese.
Mnr. Rambado het ook na die kapitale begroting verwys. Uit die kapitale begroting het mnr. Dan Masengana (Direkteur: Finansies) sekere syfers aangehaal. Mnr. Masengana sê dat daar vir die waterwerke vanaf Albasini tot Nandoni R5,5 miljoen begroot is vir elk van die volgende vier jare.
"Vir die pypleidings vanaf Albasini tot die Lugmagbasis en Kutama Sinthumule is R8 125 000 begroot vir elke jaar, tot en met 2006/2007. Die pype na die dorp word hierby ingesluit. Vir die hoofwatervoorsiening vanaf Albasini tot Waterval is R5 miljoen begroot jaarliks, vir die volgende vier jaar. In totaal beloop die begroting meer as R18 miljoen," het mnr. Masengana gesê. Op 'n vraag of daar voorsiening gemaak is vir die waterpype wat vanaf die Albasinidam deur Levubu loop, het mnr. Masengana gesê dat hy nie bewus is van so 'n voorsiening nie. Hy het gesê dat daar voor April 'n hersiening van planne sal wees om die uitgawes op die pypleiding in Levubu te akkommodeer.

ADVERTISEMENT:
