

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 October 2011
Die Voorsittersvereniging (VV) gaan die tweede naamsverandering van Louis Trichardt na Makhado teenstaan.
Dit volg nadat die Minister van Kuns en Kultuur, mnr. Paul Mashatile, die naam Makhado as nuwe naam van Louis Trichardt op 14 Oktober in die Staatskoerant gepubliseer het.
Die VV sê dat die naam Makhado stil-stil in die staatskoerant gepubliseer is, nadat hulle uitdruklik in briefwisseling met die vorige minister, Lulu Xingwana, asook met Mashatile versoek het dat hulle [die VV] daarvan in kennis gestel moet word indien die minister ‘n nuwe naam sou publiseer. Dit het nie gebeur nie en die VV moes via die media van die naamsverandering te hore kom.
“Die VV is dus weereens glad nie as ‘n belangegroep erken of gekonsulteer nie,” het Naudé Maandag gesê. Die appèlhof het in Maart 2007 uitspraak gelewer dat die eerste naamsverandering na Makhado tersyde gestel moes word, juis as gevolg van onvoldoende konsultasie.
Die VV sien die naamsverandering na Makhado as ‘n poging om mense te polariseer.
“Hierdie is glad nie ‘n ontsluiting van die sinergie of samewerking tussen die kulturele groepe nie. Die man op straat het nooit gekom met die behoefte dat die dorp se naam moet verander nie. Hierdie is ‘n polities-gedrewe proses, wat nie in landsbelang geskied nie, maar vir eie posisionele gewin gedryf word,” sê Naudé.
Mashatile is gevra vir sy redes vir die naamsverandering en of die VV se briewe ontvang en beantwoord is, maar sy kantoor het by monde van die adjunk-direkteur van kommunikasie, me. Premi Appalraju, gesê dat dit nie vir hulle moontlik sal wees om hierdie week te antwoord nie.
Die Limpopo Geografiese Naamskomitee (LGNK) was egter vinnig om te reageer op die naamsverandering. Hulle het hul tevredenheid met die konsultasieproses uitgespreek. Naudé sê egter dat die “sogenaamde” konsultasieproses hierdie keer nog meer blatante foute bevat as die eerste keer.
“Ons het ‘n beter saak hierdie keer, omdat daar nog meer administratiewe ongeregtigheid gepleeg is as met die vorige keer. Sekere uitgesoekte groepe is gekonsulteer oor wat die naam moet wees, asof dit ‘n feit is dat die naam moet verander,” sê Naudé.
Naudé sê dat hulle vasberade is om reg en geregtigheid te laat geskied.
“Ons kan nie toelaat dat die goeie gesindheid en samewerking wat daar onder die kultuurgroepe bestaan, bederf word deur politici wat ons ter wille van eie gewin wil polariseer nie. Die naamsaak is deel van ‘n groter prentjie. Ons kan nie ongeregtigheid toelaat nie, want dan is die volgende stap dat alle grondwetlike regte vertrap word,” sê Naudé.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
