

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 October 2011
Borg kon nog nie vasgestel word vir die vier werknemers wat saam met Louis Trichardt sakeman Martinus Jacobus Oosthuyse van onder meer moord aangekla word nie. Dié mans het weer verlede Donderdag (20/10) in die distrikshof op Louis Trichardt verskyn.
Die 47-jarige Oosthuyse, of Inus soos hy beter bekend is, moes na sy arrestasie op 22 September ‘n nag in die polisieselle deurbring saam met sy werknemers Rodger Chikadzi, Gift Machipisa, David Mapiye en Gilbert Sikhokho Muthelo. Oosthuyse se seun, Tinus (24), is later ook in hegtenis geneem.
Die ses mans se inhegtenisname volg nadat hulle glo die reg in eie hande geneem het en drie Zimbabwiese mans, wat hulle vermoed het by Oosthuyse se onderneming ingebreek het, agter ‘n bakkie gesleep het. Daar is ook sprake dat die drie beweerde slagoffers aan ´n boom vasgebind is en met pype aangerand is.
Die twee Oosthuyses en vier werkers staan tereg op klagte van poging tot moord, ontvoering en aanranding. Beide Inus en Tinus is kort na die voorval op R1 000 borg vrygelaat. In Inus se geval moes daar eers ´n Hooggeregshofbevel verkry word, nadat die plaaslike polisie glo geweier het om hom vry te laat op borg.
Intussen bly die vier werkers in polisie aanhouding, nadat hulle borgaansoek reeds drie keer uitgestel is.
Ten tye van die voorval het polisie nog na die lyk van een van die drie mans gesoek wat na bewering weens sy beserings beswyk het.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het vandeesweek bevestig dat die polisie nog steeds besig is om die saak te ondersoek en nog nie die man se oorskot kon opspoor nie.
Die vier werkers se saak is uitgestel tot 27 Oktober, waarna hulle ´n borgaansoek sal kan bring.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
