ADVERTISEMENT:

 

'n Christusfees soos nog nooit tevore

 

News  Date: 06 February 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Vanjaar se Christusfees vind op 13 Maart plaas, en met gospelsangers Danie Botha, Piet Smit en die jeuggroep Innervision wat optree, beloof dit om 'n ware lofprysingsfees te wees.

Die Kruiskomitee nooi alle gemeentes uit om hierdie dag in hul dagboeke aan te teken om saam met vriende in Christus die Here te kom loof by hierdie interkerklike lofprysingsgeleentheid. Dit sal plaasvind by Leeupark, die krieketveld van Hoërskool Louis Trichardt. Toegang is gratis.

"God het ons dorp so ryklik geseën met die vorige twee feeste en ons hoop om hierdie jaar alle verwagtinge te oortref," sê 'n woordvoerder van die Kruiskomitee. Die eerste Christusfees in Oktober 2002 het saamgeval met die eerste verligting van die kruis, wat alreeds 'n baken op die dorp geword het.

Die program gaan afskop met 'n optog om 14:00 vanaf die grasperk agter die biblioteek. By die terrein aangekom, sal heerlike samesang onder leiding van Danie Botha en Piet Smit volg na die verwelkomings. Die kinders kan weer uitsien na 'n spesiale poppekas-, sang- en dansprogram, waartydens die volwassenes sal vergader om in te tree in gebed vir die dorp. Danie Botha en Piet Smit sal volop tyd kry om met hul unieke sangbediening almal op te bou.

Vir die liggaamlike versterking sal kos en koeldrank deurlopend te koop wees. Aandetes sal ook op die terrein te koop wees.

Die gewilde Innervision sal die aand om 19:00 in die hoërskoolsaal optree en weereens word geen toegang gevra nie. Vir Sondag, 14 Maart, word 'n groot interkerklike erediens op Leeupark beplan. Persone of instansies wat borgskappe wil aanbied of enige navrae het, is welkom om Izelle Briers te skakel by tel. (015) 516 2511 of 083 280 1583.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines