ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

VV hou voet by stuk hulle is geïgnoreer

 

News  Date: 31 October 2011

 

In die naamstryd tussen die Minister van Kuns en Kultuur en die Voorsittersvereniging (VV), hou die VV voet by stuk dat hulle totaal geïgnoreer is.

Die kantoor van Minister Paul Mashatile het nie die vraag van die Zoutpansberger of hulle die korrespondensie van die VV geantwoord het, reguit beantwoord nie.

“Daar is met die inhoud van die briewe gedeel, deur beide die Suid-Afrikaanse Geografiese Naamsraad (SAGNR) sowel as die Minister,” antwoord die minister se adjunk-direkteur van kommunikasie, me. Premi Appalraju.

Mnr. André Naudé, voorsitter van die VV, ontken dit ten sterkste.

“Daar is steeds geen antwoorde op enige van ons skrywes ontvang nie,” het Naudé gesê. Die laaste vier skrywes is aan Minister Mashatile gerig en volgens die VV is ontvangs nie eers erken nie.

Minister Mashatile het die naam Makhado vir die dorp Louis Trichardt in die Staatskoerant (Nr. 34607 Staatskoerant, 14 Oktober 2011:Nr 851) gepubliseer. Die VV het op ‘n vergadering op 18 Oktober eenparig besluit dat beswaar teen die naamsverandering binne die voorgeskrewe 30 dae ingedien gaan word.

Mashatile het sy redes vir die verandering van die dorp se naam gestel en gesê ´n "versoek is van die Makhado Munisipaliteit ontvang om die naam te verander en in terme van die SAGNR is al die nodige prosesse gevolg.”

Naudé sê dat hoegenaamd geen redes vir die naamsverandering aan die VV verskaf is nie.

“Daar is nie eers vasgestel of daar ‘n behoefte is dat die dorp se naam moet verander nie,” het Naudé gesê en die proses as polities gedrewe en “polariserend” beskryf.

Intussen gee die provinsiale naamskomitee hulle interpretasie van die sogenaamde “konsternasie” oor die dorp se naam in hul persverklaring van 17 Oktober, onder die opskrif “Agtergrond oor die Makhado naam”.

Hulle begin deur te sê dat die naam Makhado verwys na die ‘westerse’ Venda koning Makhado wa Ramavhoya wat oor die gebied regeer het vanaf 1864 tot sy dood in September 1895.

“Die skepping van die naam Louis Trichardt onmiddellik na die Boere se militêre oorwinning, waarin Makhado se seun Mphephu se troon omver gegooi is ( teen die einde van 1898), is egter die primêre oorsaak van die konsternasie rondom die naam: om dit Louis Trichardt te los is ‘n belediging vir die vhaVenda wat voel dat dié naam ‘n viering van agressie teenoor ‘n hele kultuurgroep is, en om dit na Makhado te verander, veroorsaak konsternasie in opposisiegeledere vir presies dieselfde rede,” lui die verklaring deur mnr. Peter Morethane, komitee woordvoerder.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines