ADVERTISEMENT:

 

‘n Verwoestende haelstorm het verlede week veral groenteboere in die Soutpansberg-gebied erge finansiële skade berokken. In die Bo-Brakrivier-omgewing is ‘n paar boere se hele oes vernietig, terwyl boere in die Waterpoort- en Sandrivier-omgewing tot 50% van hul oeste verloor het. Foto verskaf.

Haelstorm gaan verbruikers duur kos

 

News  Date: 31 October 2011

 

Verbruikers kan gereed maak vir ‘n dramatiese verhoging in veral groentepryse.

Dit is die waarskuwing van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie ná ‘n verwoestende haelstorm verlede week grootskaalse skade in die Soutpansberg-gebied aangerig het.

Die haelstorm het veral boere in die Vivo en Waterpoort ernstige finansiële skade berokken.

Volgens mnr. Japie van der Goot, voorsitter van Bo-Brakrivierboerevereniging, het die haelstorm sekere boere in sy gebied heeltemal uitgehaal.

“By van die groente-, babagroente- en tamatieboere is alles weggeslaan …niks het oorgebly nie. In een van die gevalle beloop die skade tot soveel as R10 miljoen. Aartappelboere het ook groot skade gehad en bestaande, sowel as aangeplante weiding is weggeslaan. Beeste sal nou gevoer moet word totdat die veld herstel het,” het Van der Goot gesê. Klein tamatieplantjies is heeltemal verwoes en van die boere het reeds weer begin plant.

Geweldige skade is ook in die Waterpoort/Sandrivier-omgewing aangerig, met boere wat tot 50% van hul oeste verloor het. Volgens mnr. Rudolf Otto, voorsitter van die Waterpoort Boerevereniging, het gewasse soos pampoene, spanspekke, soetrissies en babagroente erg deurgeloop.

“Vir van hierdie boere is dit ook nie iets nuuts nie, en een spesifieke boer is nou vir die sesde keer in 16 jaar swaar getref. Tog bly die boere positief,” het Otto gesê.

Skade is ook aan gewasse in die Mopane-gebied aangerig. Tans probeer boere skade aan strukture herstel en ook, waar moontlik, bruikbare produkte van die lande af kry. In baie gevalle is al die blare weggeslaan en as dit nou sou warm word, kan sonbrand netsoveel skade aanrig.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines