ADVERTISEMENT:

 

Die vêr-dragtige elandkoei, verstrengel in ‘n draadstrik, wat Van der Merwe moes uitsit. Foto verskaf.

Boere se verloorstryd teen onwettige jagters

 

News  Date: 07 November 2011

 

Asof moeilike ekonomiese omstandighede, die droogte en onsekerheid rondom eienaarskap van grond nie genoeg is nie, word daar van boere ook nog verwag om in baie opsigte ‘n verloorstryd teen onwettige jagters te veg.

Mnr. Willem van der Merwe van die plaas Hermanus in die Mopanie-omgewing is kwaad. Hy het voorverlede week twee elande, ‘n groot bul en ‘n vêr-dragtige koei, as gevolg van draadstrikke verloor.

Min mense besef watter wrede manier draadstrikke is vir ‘n dier om te vrek. In baie gevalle lê die dier vir dae in die veld voordat dit uiteindelik van honger en dors vrek. Soms doen die onwettige strikstellers ook nie eers die moeite om hul strikke na te gaan nie.

Van der Merwe se elandbul se einde was eweneens wreed. Dié dier is ook nie dadelik deur die draadstrik gedood nie. Die strikstellers het toe eers die dier se hakskeensenings afgekap, waarna hulle dit met klippe doodgegooi het. Die karkas is daarna opgekap, maar alles is nie eers weggedra nie. Hompe vleis is sommer net daar in die veld gelos saam met een van die jagters se Okapi-knipmes – so honger was hulle sekerlik nie. In die geval van die elandkoei, moes Van Der Merwe noodgedwonge die dier uit haar lyding verlos. Ook sy is nie deur die strik gedood nie maar het erge beserings opgedoen. Koei en kalf is beide daarmee heen.

“Ek voer my diere al die afgelope drie maande self vanweë die droogte. Dit kos my duisende rande om te voer – dan word my diere so weggedra,” sê ‘n opsigtelik-ontstoke Van der Merwe. Die waarde van die diere self beloop sowat R20 000.

Van der Merwe sê sake word by die polisie aangemeld. Dan en wan word sake ondersoek en soms ontvang hulle selfs besoek van die polisie. Resultate in die vorm van arrestasies en skuldigbevindings is egter skraps.

Van der Merwe sê hy het heeltemal begrip vir boere se frustrasies en optrede teenoor onwettige jagters. Hy het veral verwys na die onlangse voorval by Masekwaspoort waar ‘n boer ‘n trop jaghonde vrek geskiet het en hul karkasse teen sy draadheining langs die N1 opgehang het – ‘n sterk boodskap aan ander onwettige jagters. Tog het talle diereliefhebbers die boer daaroor gekritiseer.

“Hierdie mense verstaan nie waaroor dit gaan nie,” het Van der Merwe gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines