

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 November 2011
Die polisie se haas om ’n skuldige vas te trek wat in 2005 die standbeeld van Makhado geverf het, het ’n lastige nadraai vir die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, asook die plaaslike stasiebevelvoerder. Hulle is Dinsdag beveel om skadevergoeding van R70 000 te betaal aan mnr. Dieter Venter, wat kort na die voorval gearresteer is.
Regter Jan Hiemstra het Dinsdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof bevel gegee dat die Minister en kol. Francois Ramovha, bevelvoerder van Makhado polisiestasie, skadevergoeding aan Venter moet betaal asook al sy regskoste in die geding. Die bevel spruit voort uit die onregmatige arres en aanhouding van Venter op 17 November 2005 omrede hy na bewering die beeld van Makhado sou geverf het.
Venter het getuig dat hy kort na die standbeeld geverf is saam met ’n groep vriende by die Hanglip-piekniekterrein gekuier het. Hy het grappenderwys die opmerking gemaak dat hy by sy werksplek alle verfblikke sal moet weggooi, aangesien sy werksplek onlangs dieselfde kleure geverf is as die beeld en die polisie mag dink dat hy die beeld geverf het. Hy het ook getuig dat hy die aand toe die beeld geverf is by vriende oorgeslaap het.
Iemand by die piekniek het hom egter as ’n verdagte by die polisie aangegee en op 17 November is hy in die teenwoordigheid van sy verloofde in die middedorp gearresteer. Hy is daarna na die Dzanani-polisiekantoor geneem en in die selle gestop. Hy is toegang tot ‘n regsverteenwoordiger geweier.
Dr. Suwil Rudolph van Van Heerden en Rudolph Prokureurs het daarna getuig dat hy vanuit Johannesburg opdrag ontvang het om ‘n borgaansoek te bring. Hy het die ondersoekbeampte, kapt. Ramovha (tans bevelvoerder van die Makhado SAPD) geskakel, wat geweier het om Venter na die hof te bring. Hy is ook toegang tot sy kliënt geweier.
Dr. Rudolph het getuig dat hy meegedeel is dat Venter na Dzanani gebring is omrede daar te veel ontsnappings in Louis Trichardt was.
Die tussenkoms van die staatsaanklaer, mnr. Ryno Mostert, kon Ramovha ook nie tot ander insigte bring nie. Rudolph het met die taakspan se bevelvoerder, supt. Ratelwana, ook ‘n bloutjie geloop, waarna hy hom tot die Nasionale Kommissaris van Polisie gewend het en uiteindelik by die provinsiale kommissaris toestemming gekry het om Venter te sien. In Dzanani het hy Venter in hand en voetboeie gekonsulteer. Op 18 November het Venter in die hof in Louis Trichardt verskyn, waar alle aanklagte teen hom laat vaar is.
Mostert, toe beheeraanklaer, het dr. Rudolph se weergawe gestaaf en getuig dat hy en kapt. Ramovha ‘n uitval gehad het waartydens hy beskuldig is dat hy bevooroordeeld was. Hy het die dossier gelees en kon geen getuienis vind waarop Venter aangekla kon word nie. Die klagtes het toe poging tot moord, afvuur van ‘n vuurwapen en opsetlike saakbeskadiging ingesluit.
Mostert het geweier om te vervolg, waarna verteenwoordigers van die plaaslike munisipaliteit ‘n memorandum aan hom oorhandig het. Hierin het hulle geëis dat alle plaaslike aanklaers en landdroste hul van die saak onttrek en dat borgtog aan Venter geweier word. Dit het hy aan die landdros oorhandig.
Wyle landdros Sakkie Scheepers het hom sterk teen die memorandum uitgespreek en dit bestempel as inmenging met die regspleging.
In die getuienis wat by die hof ingedien is, het verskeie ander interessanthede ook te voorskyn gekom. Uit die dossier blyk dit dat die hoofverdagte, op grond van vingerafdrukke wat op die toneel gevind is, ’n swart persoon is. Die afdruk is reeds op 29 November 2005 geïdentifiseer as dié van ene S.G. Nthombeni. Eers bykans drie jaar later, op 12 September 2008, is ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik. Uit wat in die hof getuig is, kon nie vasgestel word of Nthombeni wel gearresteer en ondervra is nie.
Die staat het hierna Zirk Erasmus geroep, wat getuig het dat Venter sou gesê het dat hy die beeld geverf het. Sy getuienis het afgewyk van sy aanvanklike verklaring en gou moes hy die regter om verskoning vra omdat hy nie die waarheid gepraat het nie. Hy het verder getuig dat sy broer ook vir die oortreding gearresteer is en ‘n naweek in die selle moes deurbring. Hy het nie gedink dat grappe oor die beeld snaaks was nie, gedagtig aan wat met sy broer gebeur het .
In kruisondervraging moes Erasmus toegee dat die opmerkings by Hanglip alles in ’n ligte luim was. Hy het ook beweer dat die polisie hom genader het en ongeveer 10 lede hom geïntimideer het en sy verklaring vir hom opgestel het. Dit is nooit aan hom teruggelees nie en hy is ook nie ’n eed opgelê nie.
Na hierdie getuienis het die verweerders besluit om handdoek in te gooi en nie vir kol. Ramovha te roep om te getuig nie. Skikkingsvoorstelle is gemaak, wat gelei het tot die hofbevel. Die gevolg daarvan is dat indien die staat nie binne 14 dae betaal nie, rente vanaf dag een daarop betaal moet word en kol. Ramovha kan ook in sy persoonlike hoedanigheid gedwing word om die bevel na te kom.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
