ADVERTISEMENT:

 

Die terreinkaart van die nuwe rioolaanleg, die Makhado Rietvley-rioolsuiweringsaanleg. Die ontwerp is so gedoen dat met die byvoeg van ekstra besinktenks die aanleg se daaglikse kapasiteit van 5 megaliter na 10 megaliter kan vergroot.

Bouwerk aan tweede rioolaanleg vorder fluks

 

News  Date: 14 November 2011

 

Bouwerk aan Louis Trichardt se tweede rioolaanleg vorder fluks, maar die vraag word gevra of dit by voltooiing ‘n volhoubare oplossing sal bring vir die dorp se kroniese rioolprobleme.

“Dit sal gebeur as al die ander kontrakte wat met riolering verband hou, soos die opgradering van pompstasies en ou pype, ook suksesvol afgehandel word,” het mnr. Henk Geldenhuys, tegniese direkteur en professionele ingenieur van WorleyParsons, op 3 November gesê. WorleyParsons is die raadgewende ingenieurs en Rubicon Civils die siviele ingenieurs.

In hierdie stadium vind konstruksie plaas van die balanseertenk, die tweede deel van die sisteem net na die inlaatwerke. By voltooiing sal die balanseertenk genoeg volume kan berg om ‘n nie-gelykmatige  vloei van rioolwater te kan ontvang, te meng en in die sisteem in te pomp teen ‘n gelykmatige vloei en tempo.

By die inlaatwerke is die goeie nuus dat die riool wat voorheen deur die pompstasie in die industriële area  hanteer is, nou reguit in die nuwe aanleg ingelaat gaan word.

“Met die nuwe sisteem sal die industriële pompstasie, wat nooit op die regte plek gebou is nie, verdwyn,” het Geldenhuys gesê.

Daar is ook reeds begin met grondwerke waar die biologiese reaktor gaan kom.

“Die biologiese reaktor is die hart van die hele aanleg. Hierdie is ‘n aërobiese verteringsporses, want lug het ingang tot die water.  Die lug is om die bakterieë lewend te hou wat die chemikalieë afbreek ... Die belugtingsvlakke en slykvlakke in die reaktor is redelik gemeganiseer en is derhalwe nie so moeilik om te bedryf nie,” sê terreiningenieur mnr. Connie Vlok.

Die beheerkamer is al dakhoogte en ‘n betondak word tans gegiet. Die kantoorgebou is grondhoogte en die span van mnr. Jafta  Mtsetwa, eienaar van Landwhooks Engineering and Projects, is besig met die steenwerke.

Daar sal as deel van hierdie projek twee sekondêre besinktenks (suiweringstenks) gebou word. Die plan is egter so ontwerp dat twee primêre besinktenks naby die inlaatwerke en nog twee sekondêre besinktenks  in die toekoms kan bykom.  Dit is van die uiterste belang , want dit sal die aanleg se daaglikse kapasiteit van 5 megaliter na 10 megaliter opstoot. Die dorp se bestaande rioolaanleg is aanvanklik vir 7.5 megaliter daagliks ontwerp, maar word geforseer om tot 12 megaliter daagliks te hanteer. Dit is die grootste oorsaak van die kroniese rioolstortings.

Die nuwe aanleg sal riool vanaf die industriële area, Uitbreiding 8, Eltivillas, die maksimum sekuritetisgevangenis en Tshikota hanteer. Die bestaande rioolaanleg , wat opgegradeer is teen ‘n koste van sowat R11.5 miljoen, sal riool uit die dorp hanteer. Die twee aanlegte sal onafhanklik funksioneer.

“Die bestaande biofilter-aanleg, wat anaërobies werk, kan nie regtig opgegradeer word om in samewerking met hierdie aërobiese aanleg te werk nie. Daar is ook nie genoeg spasie nie,” het Geldenhuys gesê.

Die Makhado Munisipaliteit het ‘n bedrag van net minder as R46,3 miljoen begroot vir die projek, maar dit sal waarskynlik net die huidige  siviele ingenieurswerke insluit. Geldenhuys sê dat as die meganiese en elektriese ingenieurswerke bykom, dit die koste na sowat R70m sal opstoot.

Volgens Makhado munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi sal die rioolaanleg teen einde September 2012 voltooi word, afhangende van die weer en omstandighede buite die kontrakteur se beheer. Tans is die projek 12% voltooi. Geldenhuys meen egter dat met die meganiese en elektriese werke wat nog moet bykom, die vroegste operasionele datum om na te kyk eers einde volgende jaar sal wees.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines