

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 November 2011
Die 19-jarige mnr. Ferdie Landman van Louis Trichardt het Saterdag die eerste ontvanger geword van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie se Boerekruis vir Dapperheid.
Landman het op 28 Mei vanjaar sy eie lewe in gevaar geplaas deur mnr. Jan Louw (49) van die plaas Nooitgedacth te hulp te snel tydens 'n gewelddadige plaasaanval. In die proses is beide Landman en Louw herhaaldelik met messe gesteek, maar hulle kon daarin slaag om hul aanvallers te verwilder en die aanval te oorleef.
Die uitsonderlike durf wat Landman openbaar het om Louw te hulp te snel, het die SDLU aangespoor om hom vir sy dapperheid te beloon. Die Boerekruis vir Dapperheid is aan hom toegeken tydens die Louis Trichardt Boerevereniging se jaarlikse prysuitdeling- en jaareindfunksie by die Beja Hengeloord.
Mnr. Doors le Roux, veiligheidsverteenwoordiger van die SDLU en voorsitter van die TLU SA Noord veiligheidskomitee, het ter agtergrond gesê dat die eertydse weermag 'n Honorus Crux-medalje toegeken het aan iemand wat uitsonderlike dapperheid getoon het.
“Na vele veranderinge is die voorreg om erkenning te gee vir dapperheid ongelukkig nie langer in gebruik in Suid-Afrika nie,” het Le Roux gesê. Derhalwe het die SDLU besluit om hierdie trotse tradisie weer te laat herleef.
Le Roux het die gebeure van daardie byna noodlottige Saterdagaand in herinnering te roep vandat hulle Louw se stem oor die plaaswagradio hoor roep het: “Hulle het ons aangeval. Ons bloei baie.” Minute vantevore is Louw en Landman met ‘n gesteelde vuurwapen by Louw se huis ingedwing. Ferdie het voor geloop. Louw het omgeswaai, die aanvallers se vuurwapen gegryp en hulle by die huis uitgedryf.
Buite het Louw om sy lewe geveg teen twee aanvallers, een met ‘n .303-geweer en die ander met ‘n mes. Hy is herhaaldelik gesteek terwyl hy aan die geweer vasgeklou het en het na Landman geroep om hom te kom help. Landman het uit die veiligheid van die huis gestorm om Louw by te staan. In die proses is hy ook herhaaldelik gesteek.
Le Roux het vertel dat Landman ure na die voorval in die hospitaal sou bieg: “Ek was bang. Ek het geweet as ek nou die deur sluit, is ek en my ma veilig, maar ek het ook geweet as ek Oom Jan alleen los, is hy dood.”
Le Roux het Landman se optrede vergelyk met die van die 15-jarige Afrikaner-kinderheld, Dirkie Uys. Dirkie het ook uit veiligheid teruggejaag om sy pa, wat deur die Zoeloes oorval is, te ondersteun. Sy dapper besluit het beide hom en sy pa se lewe gekos.
“Hy was ‘n kind met 'n buitengewone sterk pligsgevoel. Hy het die moed en durf gehad om dit wat hy as plig beskou het, te doen, selfs al was dit ten koste van sy eie lewe,” het Le Roux met verwysing na Dirkie gesê. Le Roux het bygevoeg dat dit vir hom ‘n eer is om erkenning te gee aan 'n dapper jong man met moed en durf.
Voorsitter van die SDLU mnr. Stephen Hoffman het op sy beurt die hoop uitgespreek dat “nie een van sy mense ooit weer in so ‘n posisie geplaas sal word, waar hulle moet veg vir hulle eie lewe, sowel as dié van hulle familie en vriende nie.”
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
