

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 November 2011
Die mynmaatskappy CoAL of Africa Limited (CoAL) kan dalk binnekort kriminele aanklagte in die gesig staar met betrekking tot hul Vele Myn.
Dit volg nadat ‘n polisie-dossier aan die lig gekom het in ‘n antwoordstuk van die Minister van Justisie, mnr. Jeffe Radebe. Die minister het verlede Vrydag vrae van die Demokratiese Alliansie (DA) beantwoord oor die vordering met die ondersoek na CoAL. Verder wou die DA ook weet of CoAL vervolg sal word vir “die verskillende beweerde oortredinge in terme van die Water- en Omgewingsbestuur Wet.”
Hierop het Radebe geantwoord dat die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) nog nie 'n finale besluit bekend gemaak het nie. Dié besluit kan eers uitgevoer word sodra die polisie hulle ondersoek afgehandel het.
CoAL het reeds in Mei vanjaar ‘n admnistratiewe boete van R9.25 miljoen aan die Departement van Omgewingsake betaal weens die omgewingsoortredings wat by hul Vele Myn naby Mapungubwe begaan is.
Bykomend het Radebe gesê dat daar ook onsekerheid heers of ‘n oortreder steeds strafregtelik aangekla kan word as hy alreeds skuld beken en ‘n boete betaal het.
Omdat CoAL glo nie net die Omgewingswet nie, maar ook die Waterwet oortree het, bestaan daar onduidelikheid oor watter die grootste gesag dra. Daarom sal die DOV die Hooggeregshof nader om ‘n verklarende bevel uit te reik om te besluit of CoAL aangekla sal word of nie.
CoAL se woordvoerder, mnr. James Duncan, het volgens Moneyweb gesê dat CoAL aansienlike vordering gemaak het in hul verhoudings met verskillende rolspelers en dat kriminele klagte hoogs onwaarskynlik is. Indien daar wel aanklagte gemaak word, sal CoAL hierdie klagte kragtig beveg.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
