ADVERTISEMENT:

 

Binne die Vondeling-stortingsterrein is dit voller as vol. Berge rommel omring mens. Die beweegruimte vir voertuie is amper nie meer daar nie. Mens kan nie jou mond of die ruit oopmaak nie of dit is vol vlieë.

Toestand by stortingsterrein skokkend

 

News  Date: 21 November 2011

 

‘n Skokkende gesig begroet deesdae inwoners wat gebruik maak van die munisipale stortingsterrein buite Louis Trichardt.

Die gedeelte buite die amptelike stortingsarea, tussen die beheerhek en die Vondelingpad, is ook al vol rommel gestort. Voertuie vorm amper ‘n verkeersknoop nog voor hulle by die stortingsgedeelte kan kom en stort die afval net daar. "Gaan die mense nou op die pad ook begin afval stort?” vra een inwoner. Inderdaad word daar reeds vullis binne die toegangspad gestort.

Wanneer mens uiteindelik daarin slaag om binne die terrein self te kom, is die skok nog groter. Dit is voller as vol. Berge rommel omring mens. Die beweegruimte vir voertuie is amper nie meer daar nie. Mens kan nie jou mond of die ruit oopmaak nie of dit is vol vlieë. Asgatkrappers vroetel rond op soek na iets wat bruikbaar is. Die ergste is seker die plakkershutte van mense wat huis gemaak het te midde van die stank en onhigiëniese toestande. “Die toestand by die asgate het baie versleg. Dit is darem nou net te erg,” het mnr. Piet du Toit, wat dikwels die terrein besoek, Sondag gesê.

Wat is die voorwaardes waarop die Department van Waterwese en Bosbou toestemming vir die Vondeling-stortingsterrein verleen het en word hierdie voorwaardes deur die munisipaliteit nagekom?

Teen druktyd het die Makhado Munisipaliteit nog nie op hierdie en ander vrae geantwoord nie. Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi was uitstedig en het laat weet dat navrae aan die Direkteur Gemeenskapsdienste, mnr. Elias Mugari, gerig moes word. Volgens Mugari se kantoor was die betrokke department besig met die antwoorde, maar het dit nog nie voltooi nie.

Mnr. Jaco Oberholzer woon al tien jaar naby die stortingsterrein. “Ek het dit nog nooit so erg gesien nie,” het hy Dinsdag gesê. Hy is in besit van ‘n kopie van die Departement van Waterwese en Bosbou se lisensievoorwaardes. “Die meeste voorwaardes, indien nie almal nie, word nie nagekom nie,” sê Oberholzer.

Die afval moet daagliks gekompakteer word en met ‘n minimum van 150mm grond bedek word. Vir lang tye werk die masjien wat dié operasie moet uitvoer nie. Te oordeel aan die berge afval, word dit nie gekompakteer en bedek nie. Die maksimum hoogte bo die grondvlak mag nie 1.5 meter oorskry nie. “Daar is gedeeltes waar die hoogte bo grondvlak seker al 10 meter is,” sê Oberholzer.

Daar word gekla dat die binnegoed van beeste ook by die stortingsterrein gegooi word. Die geweldige vlieëplaag in die dorp word hieraan toegeskryf. Volgens die voorwaardes mag “geen organiese of anorganiese elemente of samestellings wat 'n definitiewe akute of chroniese negatiewe effek op menslike gesondheid of op die omgewing kan hê ... by die stortingsterrein weggegooi word nie”.  Mediese afval of geskeduleerde farmaseutiese produkte mag ook nie daar gestort word nie.

Ander voorwaardes sluit in dat stappe geneem moet word om toegangspaaie in so ‘n  toestand te hou dat voertuie wat afval vervoer ongehinderde toegang tot die terrein het. Dit is duidelik nie die geval nie. Daar moet effektiewe toegangsbeheer wees. Daar is ook streng voorwaardes om waterbesoedeling te voorkom.

Wat betref die plakkers wat op die terrein woon, hoort hulle nie daar nie. Sowat ses weke gelede het ‘n brand op die stortingsterrein uitgebreek. “Ek het vir die munisipale owerhede gesê dat die brand deur die plakkers gestig is en hulle daarop attent gemaak dat dié mense volgens die voorwaardes nie daar mag woon nie,” sê Oberholzer.

‘n Nuwe stortingsterrein het al ongeveer ses jaar gelede ter sprake gekom. Volgens die munisipaliteit sal die ligging hiervan "tussen die weiveld en Tshikota” wees. Presiese aanwysings is van die munisipaliteit aangevra. Na wat verneem word, is die omgewingsimpakstudie vir die nuwe terrein ook voltooi en wil inwoners nou weet waarom die projek so lank sloer. 'n Antwoord hierop word ook nog verwag vanaf die munisipaliteit.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines