

ADVERTISEMENT:

Die silwer Toyota Corolla waarin die vyf verdagtes gereis het.
News in brief Date: 15 September 2017
Die Makhado Polisie is tans op soek na vyf verdagtes wat op die vlug geslaan het.
Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder, konst. Irene Radzilane, het die polisie gereageer op ’n wenk dat dié vyf verdagtes glo onderweg was na Nzhelele. Hulle het glo beplan om ’n besigheid daar te beroof.
Die polisie het ’n lokval vir die vyf mans gestel en hulle ingewag in Louis Trichardt.
Volgens berigte het die rowers, wat gereis het in ‘n silwer Toyota Corolla, Louis Trichardt binne gekom vanaf Polokwane se kant. Hulle het egter die polisie gewaar en teen ’n hoë spoed weggejaag.
Die rowers het koers gekies op die Levubu-pad, met die polisie en lede van die Soutpansberg Dorpswag kort op hulle hakke.
In hul haas om ’n arrestasie te ontduik het die rowers toe besluit om ’n vragmotor links, op die skouer van die pad, verby te steek. Hierdie besluit het die rowers duur te staan gekom toe hulle die vragmotor se kajuit op sy linkerkant gestamp het.
Die rowers moes noodgedwonge, kort duskant Gerhard Grasdakke, hul voertuig tot stilstand bring.
Al vyf die rowers het deur die oop hek gehardloop en die bosse in gevlug.
Binne-in die voertuig het die polisie se ondersoekspan beslag gelê op ’n koelhouer waarin hulle twee 9mm pistole met afgeslypte registrasienommers, ammunisie, ’n klapmus en twee pare handskoene gevind het. Die polisie ondersoek ook die moontlikheid dat die voertuig gesteel kan wees.
Teen 12:00 was die polisie se K9-eenheid, ondersteun deur ’n polisiehelikopter asook lede van die Soutpansberg Dorpswag en die naburige plaaswag, besig om na die verdagtes te soek.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
