

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 23 January 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die jong Marli Knoetze, bekende plaaslike gewigstoot- en diskusatleet, is ingesluit in die voorbereidingspan vir die IAAF Wêreld Junior Kampioenskappe in Italië vanjaar.
Die Junior Wêreldkampioenskappe, vir die onder 20-ouderdomsgroepe, word tweejaarliks aangebied en vind vanaf 13 tot 18 Julie in Grosseto in Italië plaas.
Marli is lid van die voorbereidingspan wat tans uit 21 seuns en 15 meisies bestaan. Meer toevoegings kan verwag word wanneer die atltiekseisoen op dreef kom. Atletiek Suid-Afrika (ASA) het die voorbereidingspan vandeesweek aangekondig.
Verkiesing tot die voorbereidingspan beteken vir die atlete dat hulle potensiaal om hulle land te verteenwoordig, erken word. Dit is 'n aanduiding dat hulle hul planne vir die jaar kan finaliseer met hul fokus op die Junior Wêreldkampioenskappe.
Marli het verlede jaar by die IAAF Wêreld Jeugkampioenskappe 'n brons medalje in die gewigstoot verwerf. Kompetisiegeleenthede in die ABSA reeks begin op 6 Februarie in Secunda, gevolg deur die Suid-Afrikaanse Junior Kampioenskappe in Bloemfontein in April en die Junior Baan- en Veldkampioenskappe in Botswana in Mei. Die finale span sal in Mei aangekondig word.

ADVERTISEMENT:
