

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 10 October 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Vir die eerste keer sedert 1994, toe die destydse Verre-Noord uitgefaseer is, is daar op 23 Augustus vanjaar twee volwaardige Limpopo-spanne (ou Verre Noord), 'n senior en O/23-span, aangewys.
Dit was 'n geskiedkundige gebeurtenis met die vooruitsig dat die Limpopo Provinsie, as 'n unie op sy eie, weer sal kan kragte meet in nasionale toernooie soos die Curriebeker. Sedert 1994 het senior sowel as skolerugby ingeskakel by die Blou Bulle Rugbyunie.
Drie van die spelers in die senior span, Martin Venter (voorry), TE Smit (agterlyn) en Mauritz Adendorff (agterlyn), is afkomstig vanaf Louis Trichardt. Daarbenewens vorm plaaslike talent ook 'n groot deel van die spanbestuur. Franna Knoetze en Pieter Swart, beide van Louis Trichardt, is onderskeidelik aangewys as hoofafrigter en spanbestuurder. Johan van Ravenstein en Douglas Modiba, albei van Polokwane, tree onderskeidelik op as agterlynafrigter en spanbeampte. Wat die bestuur van die O/23-span betref, is Basie van der Merwe (Musina) aangewys as hoofafrigter, met Burt De Pradines en Robbie Human (ook van Musina) onderskeidelik die hulpafrigter en spanbeampte. Chris Cohen (Levubu) tree op as spanbestuurder, met Okkie Strydom (Louis Trichardt) wat as mediabestuurder optree vir beide spanne.
Sedert September spog beide spanne met skitteroorwinnings in hul kragmetings. Die O/23-span wen hul wedstryd teen die Senior Valke Platteland B, met 'n telling van 19-15, waarna hulle 27-13 afreken met Blou Bulle Platteland. Hulle klop Zimbabwe se nasionale O/21-span met 42-25, waarna hulle die afgelope naweek 27-21 seëvier oor die Pumas se senior Liga-klubwenners.
Wat die senior span betref, klop hulle eerste die Pretoria Blou Bulle Plattelandspan met 'n wegholtelling van 57-3, waarna hulle 'n 39-31 oorwinning behaal oor Zimbabwe se senior nasionale span. Die afgelope naweek behaal hulle 'n oortuigende 51-10 oorwinning oor die Pumas se Plattelandse span. Die senior span het dié week vertrek na Rustenburg waar hulle gaan deelneem aan die SARVU Platteland Toernooi vanaf 9 tot 18 Oktober.

ADVERTISEMENT:
