

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 06 December 2002
LOUIS TRICHARDT – Die dorp se eerste krieketspan het Sondag (1ste) daarin geslaag om die span van Letaba (Tzaneen) met drie paaltjies te klop in hulle Limpopo Krieketunie-kragmeting op Louis Trichardt se tuisveld.
Louis Trichardt het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Uitstekende veldwerk en akkurate boulwerk van al die boulers het uit die staanspoor druk op Letaba se kolwers geplaas. Dit was moeilik om lopies te kry en die kolwers het roekelose houe begin speel. Dit het gesorg dat paaltjies gereeld gekantel het en die telling het geval van 75/3 na 24 beurte tot 126 almal uit in die 40ste beurt. Johan Bouwer (25) was die enigste kolwer van Letaba wat indruk kon maak. Vir Louis Trichardt het Peewee van der Merwe (2/19 in agt beurte), Pierre Jonker (2/26 in nege beurte) en Robert Janse van Vuuren (2/14 in sewe beurte) die beste met die bal gevaar.
Louis Trichardt moes teen 'n tempo van 2.5 lopies per beurt kolf om die wedstryd te wen. Glen McLeod (33) en Leon Fourie (16) het die beurt geopen en 'n aanvangsvennootskap van 43 lopies aangeteken. Na hulle vertrek het 'n paar paaltjies vinnig gekantel, maar Brendan Bridge (23), wat op nommer vyf gekolf het, het die wedstryd in Louis Trichardt se guns geswaai. Sy telling sluit vyf agtereenvolgende viere in. Robert Janse van Vuuren (13 nie uit nie), het die wenlopies aangeteken in die 28ste beurt om vir Louis Trichardt 'n oorwinning te besorg met slegs sewe paaltjies plat. Die wen beteken dat Louis Trichardt nou twee wedstryde gewen het en een verloor het uit 'n moontlike tien.
Die eerstespan se volgende wedstryd sal op 5 Januarie volgende jaar plaasvind teen Thabazimbi op Louis Trichardt se tuisveld. Eerskomende Saterdag word die finaal van die uitklopliga gespeel op die A-veld. Die wedstryd vind tussen Limpopo Dairy en ICR Construction plaas en beloof om die ouma van alle wraakwedstryde te wees

ADVERTISEMENT:
