

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 22 November 2002
LOUIS TRICHARDT - ICR Construction en GT Verspreiders het Saterdag (16de) mekaar die stryd behoorlik aangesê in die eindstryd van die Dombo & Du Plessis Skeidsregterskrieketliga. In 'n naelbyt wedstryd, het ICR daarin geslaag om die wenlopies aan te teken met slegs vyf balle oor.
ICR het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Glen Mcleod (11) en Brendan Bridge (47 nie uit nie) het die beurt vir GT geopen. 'n Eerstepaaltjie vennootskap van 40 lopies het 'n goeie grondslag gelê. Brendan het veral goed gekolf en sy kolf gedra om teen die einde van die beurt nie uit te wees nie. Bernie Whitcomb, wat op nommer drie ingekom het, het 36 lopies aangeteken in 'n tweede paaltjie vennootskap van 86, voordat hy gevang was. Johan van Eeden (21) het die lopietempo versnel, maar na sy vertrek het ICR daarin geslaag om die kolwers te beperk en die telling op 163 vir 5 te hou. In 'n stadium het dit gelyk of GT tweehonderd sou kon aanteken. ICR se mees suksesvolle boulers was Pieter Jooste (2/23 in vier beurte) en Inus Steyn (2/33 in vier beurte).
ICR het wankelrig begin kolf en die vroeë verlies van paaltjies het gesorg dat hulle in die moeilikheid was op 43 vir 4 na 14 beurte. Anton van Zyl (45) wat op nommer vier gekolf het en Pieter Jooste (66 nie uit nie), wat op nommer ses gekolf het, het egter vasgeskop en die telling na 111 geneem voordat Anton uit was. Met agt beurte om te gaan, het ICR nog 62 lopies nodig gehad en met slegs drie beurte oor moes hulle nog 27 lopies aanteken om te wen.
Pieter Jooste en Jaco Smit (12 nie uit nie), het kop gehou en die wenlopies geslaan van die eerste bal van die laaste beurt. Dawie Dreyer (11), het ook dubbelsyfers aangeteken. Vir GT het Brendan Bridge sukses behaal met die bal en eindig met boulsyfers van 2/29 in vier beurte. Pieter Jooste het die Man van die Wedstryd-trofee ontvang vir sy 66 (nie uit) lopies.
Die Limpopo Krieketunie se wedstryd wat eerskomende Sondag sou plaasgevind het tussen Louis Trichardt se eerstespan en Academy 99 CC is uitgestel na Maart aanstaande jaar. Die wedstryd tussen Louis Trichardt en Letaba op 1 Desember gaan voort op Louis Trichardt se tuisveld.

ADVERTISEMENT:
