

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 08 June 2012
Oor bietjie meer as ‘n week durf ‘n plaaslike dokter een van die strafste fietsry-uitdagings in die land aan, die jaarlikse Freedom Challenge. Dit is ‘n rit wat strek vanaf Pietermaritzburg in Kwazulu-Natal tot by Wellington in die Wes-Kaap. Die totale afstand is rondom 2 300 kilometer en fietsryers moet die afstand binne 26 dae aflê.
Wat die uitdaging so moeilik maak, is die feit dat elke fietsryer op hom- of haarself aangewese is vir die duur van die resies. Daar is nie voertuie wat agter die fietsryers aanry nie en geen tegniese spanne of ondersteuners wat jou inwag by elke dag se “wenpaal” nie. Die roete strek oor berge en deur riviere en die weerstoestande wissel van sneeu in die Malutiberge tot warm sonskyn in die Karoo. Die oornagplekke is sowat 100 kilometer uit mekaar, maar die fietsryers moet dikwels êrens langs die pad skuiling soek en ‘n paar uur se slaap inkry.
Dr. Casper Venter is ‘n bekende in plaaslike fietsrykringe en sekerlik een van die fiksste en mees bedrewe bergfietsryers. Hy is een van die nagenoeg 50 deelnemers aan die Freedom Challenge wat in groepe van 10 wegspring. Die eerste groep vertrek reeds Saterdag (9de). Casper se groep spring op 18 Junie weg en hy hoop om die roete in 20 dae te voltooi.
Die uitdaging verg meer as net fisieke fiksheid. Om vir so ‘n lang tydperk op ‘n fiets te wees, verg ongelooflike deursettingsvermoë en emosionele krag. Casper berei reeds vir etlike maande intensief voor vir die uitdaging. Hy vertel dat die fietsryers hul eie klere, gereedskap, onderdele en ‘n sekere hoeveelheid kos moet saamneem. Voor die resies mag hulle 20 twee-liter roomyshouers vol pak met noodsaaklikhede soos ekstra klere, onderdele en voedselaanvullings. Hierdie houers word dan vooruitgestuur na die oornagstasies.
Die fietsryers moet voorbereid wees op enigiets van ‘n pap wiel tot ‘n raam wat breek. Die oornagplekke is gewoonlik plaashuise op die roete. Hier kan die deelnemers kies of hulle vinnig iets wil eet en aangaan, en of hulle eers wil uitrus. Baie van die deelnemers verkies om op sekere dae meer as 200 kilometer te ry en deur te druk na die volgende oornagstasie. Verlede jaar se wenner en die rekordhouer, Alex Harris, het die roete voltooi in 12 dae en 15 ure en by tye net hier en daar langs die pad gerus om ‘n paar minute te slaap.
Een aspek wat Casper, soos die ander deelnemers, nie kan voorspel nie, is die weer. Verlede jaar se deelnemers moes baie sneeu trotseer. Casper het nie minder nie as vier stelle handskoene ingepak om die koue weg te hou. Dit is buiten die ekstra kouse, reënbaadjies, musse en droë skoene wat saamgedra word.
Die groot uitdaging in die Freedom Challenge is die navigasie. Geen elektroniese apparaat soos GPS’e word toegelaat nie en deelnemers kry 84 navigasiekaarte wat hulle van een kontrolepunt na die volgende neem. Veral die fietsryers wat vir die eerste keer aan die resies deelneem, verdwaal gereeld en spandeer baie tyd om weer by die bakens uit te kom. Volgens Casper is daar darem ‘n bietjie troos in die wete dat elke deelnemer ‘n Netstar-toestel saamdra wat die jaer se posisie deurgee aan die organiseerders. Dit werk ongelukkig met behulp van ‘n selfoonsein, wat meebring dat deelnemers vir lang tye nie bereikbaar is nie. “As jy na drie dae nie ‘beweeg’ nie, sal hulle jou kom soek,” sê Casper.
Die “soek” deel gaan ook nie maklik wees nie. Die roete bring mee dat elke deelnemer elke dag tussen 1 500 en 2 000 meter klim en daal. Diegene wat die volle roete doen, klim meer as 37 000 meter. Een van die laaste skofte in die Baviaansberge is so straf dat dit die deelnemers feitlik ‘n volle dag neem om sowat tien kilometer te vorder. Die deelnemers haal gewoonlik hulle fietse uitmekaar en dra dit op hulle rûe tydens hierdie strawwe skofte.
Casper se opoffering met hierdie uitdaging gaan egter alles vir ‘n baie goeie doel. Met die resies beoog hy om soveel as moontlik geld in te samel vir die Makhado Care Group, ‘n plaaslike organisasie wat hulle beywer om bystand aan kankerpasiënte te verskaf. ‘n Spesiale fondsinsamelingsprojek is geloods waar individue en besighede hom kan borg per kilometer wat hy voltooi. “Dit sal my motiveer om nie op te gee nie en deur te druk tot aan die einde,” sê Casper.
As die dokter dit kan regkry, sal hy een van die handjievol fietsryers wees wat kan spog met ‘n spesiale Basotho-kombers wat aan deelnemers oorhandig word wat die roete binne 26 dae voltooi.
Besighede of individue wat hom wil borg, kan Makhado Care Group nader of hom skakel by (015) 516 4871.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
