

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 29 June 2012
Teen druktyd was dr. Casper Venter bykans by die halfpadmerk in die uitmergelende Freedom Challenge. Hy was een van die 29 oorblywende deelnemers aan hierdie marathon bergfietsrit van meer as 2 300 kilometer wat vanaf Pietermaritzburg tot by Wellington in die Wes-Kaap strek.
Woensdagoggend was die groep waarin Casper ry op pad na Hofmeyr in die Oos-Kaap. Sedert hulle op Maandag, 18 Junie, weggespring het, het hy reeds naby 800 kilometers voltooi wat verskeie bergpasse en dele deur modder en sneeu ingesluit het.
Die Freedom Challenge word beskou as een van die strafste uitdagings waaraan atlete kan deelneem. Die fietsryers is op hul eie aangewese en moet met behulp van roetekaarte hul weg van die een oornagpunt na die volgende vind. Die oornagstasies is dikwels plaashuise of ou skoolgeboutjies en die fietsryers moet self besluit of hulle wil stop of deurdruk na die volgende punt toe. Die deelnemers het net 26 dae om die roete te voltooi, wat meebring dat hulle dikwels vroegoggend wegspring en tot laat in die nag ry.
Casper se fiets se raam het ‘n paar dae gelede gekraak, maar tot dusver help die stuk bloudraad en pypklamp om alles bymekaar te hou. Volgens sy vriend, Bas Rennings, is Casper steeds baie positief om die tog te voltooi en verloop alles nog relatief volgens plan. Bas help om die webtuiste op te dateer waar Casper se vordering gevolg kan word (www.freedomchallenge2012.com).
Na verwagting gaan Casper hard probeer om die resies in minder as 20 dae te voltooi. Die groep ryers saam met hom sluit Ezanda Grobler in wat gaan poog om die vrouerekord vir die resies te verbeter. Die vroue se rekord is tans 19 dae en bykans 8 ure wat in 2011 deur Tatum Prins opgestel is.
Wat die mansresies betref, word dit oorheers deur twee legendariese deelnemers, Alex Harris en Martin Dreyer. Albei van hulle het ‘n dag na Casper se groep weggespring, maar is reeds ver by hulle verby en was teen druktyd verby Baviaanskloof in die Wes-Kaap. Dreyer was ‘n paar uur voor Harris, maar of hy die voorsprong sal behou sal eers teen die einde van die week duidelik wees. Hulle wil die roete in minder as 12 dae voltooi om sodoende ‘n nuwe rekord op te stel. Gemeet aan hulle vertoning tot dusver is die kanse goed dat hulle die rekord (12 dae en 15 ure) met ‘n volle dag kan verbeter.
Die volgende paar dae gaan na alle waarskynlikheid Casper se vernuf en uithouvermoë tot die maksimum beproef. Die koue weer en sterk winde maak die vordering moeilik en hulle het nog ‘n paar bergpasse om oor te kom voordat hulle deur die Karoo is.
Casper neem aan die Freedom Challenge deel om geld in te samel vir die Makhado Care Group, ‘n plaaslike groep wat hulle beywer om sorg te bied aan kankerpasiënte.
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

ADVERTISEMENT:
