

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 18 October 2002
LOUIS TRICHARDT - Louis Trichardt se eerste krieketspan het Sondag verras toe hulle daarin geslaag het om die sterk Bushveld Lions van Polokwane te klop met een paaltjie op Louis Trichardt se tuisveld in hulle eerste wedstryd van die nuwe Limpopo krieket subunie-liga.
Louis Trichardt het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Die kolwers van Bushveld het gesukkel om aan die blad gewoond te raak en met die aanbreek van die drankies pouse, was hulle telling op 73/4. Ongelukkig het die senuwees vroeg gepla in die tuisspan en verskeie vangkanse is nie benut nie. Die veldwerk was ook nie op standaard nie en onnodige lopies is soms weggegee. Na die pouse het Khalid Mota en Chrisjan Hendriks tot die boulwerk toegetree en die kolwers van Bushveld laat bontstaan. Khalid het geëindig met skitterende syfers van 2/8 in sewe beurte en Chrisjan met 2/9 in drie beurte. Shaun O'Connor het ook twee paaltjies gekry en eindig met 'n ontleding van 2/38 in sewe beurte. Die laaste paaltjie het gekantel met die telling op 149. Vir Bushveld het Christo Niewoudt (16), Renier Maritz (17), C. Olivier (37) en Wayne Montgommery (16) almal lopies gekry.
Louis Trichardt was redelik gelukkig met die stand van sake en moes teen 3 lopies per beurt kolf om te wen. Twee vroeë paaltjies het egter nie gehelp nie en met die aanbreek van middagete was die teiken nog ver, met die telling op 62/5 na 19 beurte. Glen McLeod het goed vertoon totdat hy BVP betrap is met sy telling op 26.
Na ete het Bushveld begin om ernstige druk op Louis Trichardt te plaas. Paaltjies het met gereelde reëlmaat begin kantel en toe die 9de paaltjie val in die 34ste beurt met die telling op 105, het 'n oorwinning onwaarskynlik gelyk. Pieter Jooste (31 nie uit nie) wat op nommer agt ingegaan het en nuweling Ian Roos (12 nie uit nie) het egter ander planne gehad en hulle onoorwonne laaste paaltjie vennootskap van 47 het die wedstryd in Louis Trichardt se guns beklink. Khalid Mota (12) en Nimesh Watekar (10) het ook dubbelsyfers behaal.
Dit was 'n goeie vertoning vir die dorp, aangesien Bushveld die sterkste span in Polokwane is, met nie minder as vyf provinsiale spelers in die Limpopo span nie. Ook moet in ag geneem word dat Louis Trichardt ses jaar laas aan 'n liga van die Provinsiale Unie deelgeneem het.
Die volgende wedstryd is teen Foskor op Duiwelskloof op 27 Oktober en die volgende tuiswedstryd is teen Academy 99 Cricket Club op 24 November. Die komitee nooi al die krieketliefhebbers in Louis Trichardt uit om die plaaslike span te ondersteun wanneer hulle op hul tuisveld speel.

ADVERTISEMENT:
