ADVERTISEMENT:

 

Casper Venter ontspan in Willowmore na nog ´n moordende dag in die fietssaal.

Dr Casper nader einde van moordende Freedom Challenge

 

Sport  Date: 05 July 2012

 

Dr. Casper Venter se epiese stryd om die moordende Freedom Challenge te voltooi, is amper iets van die verlede. Teen druktyd het hy nog ‘n paar honderd kilometer gehad om te voltooi van die bykans 2 400 kilometer roete.

Meer as die helfte van die rapsie meer as 50 deelnemers wat in Pietermaritzburg weggespring het, het reeds onttrek. Die moeilike omstandighede, beserings en meganiese probleme het hulle tol geëis. Casper het op Maandag, 18 Junie, weggespring en moet die tog voor 13 Julie voltooi. As alles egter volgens plan verloop kan hy eerskomende Vrydag of Saterdag in Wellington arriveer, wat beteken dat hy die roete in minder as 20 dae voltooi het.

Casper het Maandag ‘n verrassingsbesoek gehad van sy familie wat hom op Willowmore ingewag het. Die dag se 171 kilometer roete het hulle deur Baviaanskloof geneem en buiten die steiltes moes hulle ook die uiterste koue trotseer. Sy vrou en kinders se kuiertjie was ‘n welkome breek voor die volgende oggend se 168 kilometer skof na Prince Albert, wat selfs nog kouer was. Casper het na die tyd opgemerk dat hy lank laas in sy lewe so koud gekry het. “Miskien het ek nou die laaste bietjie vet om my lyf verloor,” het hy gespot.

Casper se vrou, Sarah, het opgemerk dat die geesdrif onder die fietsryers besonder goed is. Casper ry in ‘n groep saam met drie ander fietsryers en alhoewel hulle moeg lyk na meer as twee weke in die saal, geniet hulle die uitdaging en is vasberade om klaar te maak.

Die tog het sy kwota probleme opgelewer en teen Woensdag was Casper al op sy derde saal. Sy fiets se raam het kort na die wegspring gebreek, maar is tydelik herstel met ‘n stuk bloudraad en ‘n pypklamp.

Die Freedom Challenge word beskou as een van die strafste uitdagings waaraan sportmanne en -vroue kan deelneem. Hulle spring in klein groepies weg oor ‘n periode van ‘n maand. Die fietsryers is op hul eie aangewese en moet met behulp van roetekaarte hul weg van die een oornagpunt na die volgende vind. Die oornagstasies is dikwels plaashuise of ou skoolgeboutjies en die fietsryers moet self besluit of hulle wil stop of deurdruk na die volgende punt toe. ‘n Warm bord kos wag darem gewoonlik by die punte waar hulle aandoen. Die deelnemers het net 26 dae om die roete te voltooi, wat meebring dat hulle dikwels vroegoggend wegspring en tot laat in die nag ry.

Deelnemers moet hulle eie gereedskap, onderdele, ekstra klere en voedselaanvullings saamdra op die fietse. Daar is nie ondersteuningspanne wat die fietsryers vergesel en bystand verleen nie. Voor die resies kry elke deelnemer 20 twee-liter roomysbakke waarin hulle ekstra onderdele, klere en kos moet inpak. Hierdie roomyshouers word dan vooruit op die roete gestuur en by die oornagpunte gelos.

Vanjaar se resies is reeds gewen deur die legendariese Martin Dreyer in ‘n rekordtyd. Martin het ‘n dag na Casper-hulle se groep weggespring, maar reeds verlede Vrydagmiddag in Wellington aangekom. Hy het die bestaande rekord van 12 dae en 15 ure met bykans ‘n dag verbeter. Die nuwe rekord is 10 dae, 16 ure en 40 minute. Die vorige rekordhouer, Alex Harris, was nie lank na hom klaar nie en het die roete voltooi in 10 dae, 23 uur en 57 minute. Die gemiddelde spoed waarin Martin die roete voltooi het, was 8,47 km/h (en dit word gemeet vandat hulle begin ry tot hulle by die eindstreep aankom).

Woensdagoggend (4de) was Casper op pad na Gamkaskloof (Die Hel), maar die plan was om deur te druk na Rouxspos waar hulle sou oornag. Daarna bly nog ses stasies oor waar hulle aandoen, onder andere by Montagu, McGrecor en Diemersfontein.

Casper neem aan die Freedom Challenge deel om geld in te samel vir die Makhado Care Group, ‘n plaaslike groep wat hulle beywer om sorg te bied aan kankerpasiënte.

 

Written by

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines