

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 11 October 2002
LOUIS TRICHARDT – Die plaaslike muurbalklub het die afgelope naweek weer as gasheer opgetree vir die baie gewilde Summit-uitdaag. Die titel was egter nie vir die plaaslike spelers beskore nie en is opgeraap deur die span van Polokwane.
Hierdie baie gewilde toernooi word jaarliks uitgespook tussen vier spanne van ses spelers elk, met Kentron (Pretoria), Polokwane, 'n uitnodigingsspan van Mokopane (Potgietersrus) en natuurlike Louis Trichardt wat vanjaar deelgeneem het.
Soos gewoonlik was die muurbal van uitstaande gehalte. Polokwane het 'n sterk span ingeskryf en slaag daarin om die toernooi te wen met 76 punte. Kentron was tweede met 49 punte, terwyl Mokopane derde eindig met 40 punte.
Louis Trichardt was die verdedigende kampioen, maar beserings en onttrekkings het veroorsaak dat die span nie vanjaar 'n faktor was nie. Slegs Cilliers Vosloo, die klub se nommer twee speler, en Johan van Nieuwenhuizen (nommer vyf) kon elk twee van hul drie wedstryde wen. Louis Trichardt het egter die kuier-gedeelte van die toernooi met gemak gewen.
Die klub het na afloop van die toernooi hul dank uitgespreek teenoor Deon Greyling van Summit vir sy borgskap en bydrae tot die ontwikkeling van muurbal as sportsoort op Louis Trichardt.

ADVERTISEMENT:
