

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 27 September 2012
Hoërskool Louis Trichardt se O/19 meisieskrieketspan word vir die sesde keer in sewe jaar as provinsiale kampioene gekroon!
Na ‘n wegholoorwinning oor Mawhalareng in die semi-finaal, was dit naelbyt-tyd in die finaal. Vir die derde agtereenvolgende jaar het Triegies se O/19 krieketsterre teen Merensky in die finaal te staan gekom. Die finaal is op 22 September in Polokwane beslis.
Louis Trichardt wen die loot en besluit om eerste te kolf. Triegies word almal uitgehaal vir 112 lopies in 24 boulbeurte. Dit was aansienlik minder as hulle 188 lopies teen Mawhalareng in die semi-finaal.
“Ons het dadelik besef dit is minder lopies as wat ons beplan het. Merensky se boulers het baie goed geboul en ons kolwers goed aan bande gelê. Merensky skop vas en ons boulers moes baie hard werk om paaltjies te kry,” sê afrigter Elsa Kriek.
Louis Trichardt haal Merensky vir 84 lopies in 30 boulbeurte uit en wen die finaal met 28 lopies.
Kriek het groot lof vir die spelers.
“Aan elke speler wat op en langs die veld was, ek salueer julle vir ‘n skitterende terugvegpoging toe dit gelyk het of die skrif aan die muur was. Elkeen het verantwoordelikheid aanvaar en meer as haar deel gedoen. Ek is trots op julle. Julle harde werk is voorwaar beloon!”
In die finaal teen Merensky was die beste kolwers Richelle Lambert met 29 lopies vanaf 49 balle en Talita Kloppers met sewe lopies vanaf 16 balle. Die beste boulers was Amorien Venter, die Speler van die Wedstryd, wat ses paaltjies neem vir 16 lopies in ses boulbeurte, en Talita Kloppers, wat vier paaltjies plattrek vir 24 lopies in sewe boulbeurte.
In die semi-finaal op 20 September in Polokwane het Triegies vir Mawhalareng met 173 lopies gewen. Talita Kloppers is daardie dag aangewys as Speler van die Wedstryd. By hierdie wedstryd was Lezahn Vollgraaff die enigste gekwalifiseerde skeidsregter teenwoordig en sy word bedank vir ‘n “ harde dag agter die paaltjies.”
In die finaal het die kaptein, Jessica McMurtrie, as Graad 12 leerder die laaste keer vir haar span gespeel. “Jy was voorwaar ‘n steunpilaar duisend,” sê haar afrigters. Kriek bedank haar mede-afrigters, Lezahn, Odette Kloppers, Cilia Williams en Craig Viljoen, vir lang ure en insette.
Aan die einde van die seisoen bedank die span en afrigters weereens al die ouers en ondersteuners wat deurgery het en bankvas agter hul span gestaan het. Mnr. Gert van der Westhuizen van Madi Gra Water word bedank vir die water en ys waarmee die spelers in die hitte van die stryd gelaaf is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
