ADVERTISEMENT:

 

Die top drie fietsryers in die mansafdeling van die P&L Fietsryklub se jaarlikse padfiets-klubkampioenskappe wat die afgelope naweek beslis is. Van links na regs staan Nico Geldenhuys (derde), CP van Wyk (eerste) en Rick Coetzee (tweede). Voorverlede naweek het CP ook die bergfiets-klubkampioenskappe ingepalm. Foto verskaf.

CP maak skoonskip tydens klubkampioenskappe

 

Sport  Date: 15 November 2012

 

CP van Wyk het die afgelope twee naweke weereens gewys waarom hy as een van die streek se mees belowende jong fietsryers gereken word, deur beide die P&L Fietsryklub se pad- en bergfiets-klubkampioenskappe in te palm.

Altesaam 30 padfietsryers het Saterdag, 10 November, deelgeneem aan die klub se jaarlike padfiets-klubkampioenskappe oor ‘n afstand van 50km op die Vivo-pad buite Makhado (Louis Trichardt).

CP jaag eerste oor die wenstreep in die mansafdeling in ‘n tyd van 01:21:00, met Rick Coetzee wat net minder as ‘n minuut later in 01:21:53 in die tweedeplek eindig. Nico Geldenhuys was derde in ‘n tyd van 01:22:22. In die vroue-afdeling was dit Renata Joubert wat die titel inpalm met ‘n wentyd van 01:36:55, gevolg deur Amanda Kruger in die tweedeplek in 01:47:02.

Voorverlede naweek (3 November) het die klub ook hul bergfiets-klubkampioenskappe in die bosbouplantasie buite die dorp aangebied. Altesaam 22 bergfietsryers het deelgeneem.

Die bergfietskampioenskappe is oor ‘n afstand van 30km aangebied, met CP wat ook hier in die mansafdeling as oorwinnaar uit die stryd tree. Hy voltooi die afstand in ‘n tyd 01:27:25. Sy naaste teenstander was Christiaan Roos, wat tweede eindig in ‘n tyd van 01:33:55, met Shaun Constable in die derdeplek in 01:36:23. In die vroue-afdeling was dit Sarah Venter wat eerste die 30km-roete voltooi in 01:56:37, meer as 30 minute voor die tweede vrou, Amanda Kruger, wat tweede was in ‘n tyd van 02:30:00.

Die klub het na afloop van die kampioenskap hul dank uitgespreek teenoor al die ondersteuners, fotograwe, tydhouers en waterpuntbemanning wat die dag ‘n sukses help maak het. Spesiale dank het gegaan aan Mark Archer en Johan van Dijkhorst vir hul harde werk om die roete uit te merk en in stand te hou.

 

Written by

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines