ADVERTISEMENT:

 

Goue medaljes vir veteraan gimnas

 

Sport  Date: 26 July 2002

 

LOUIS TRICHARDT - Wilkie Louw van die plaaslike gimnastiekklub het as algehele wenner van die Veterane Graad 1-afdeling uit die stryd getree tydens die Suid-Afrikaanse Senior Grade Gimnastiekkompetisie op 6 Julie in Durban.

Buiten sy goue medalje as algehele wenner, het hy nog drie goue medaljes (rekstok, brug en ringe) huistoe gebring, asook een silwer (beulperd) en twee brons (vloer en sprong). Louw se prestasie is des te merkwaardiger, omdat hy slegs vir 'n paar maande weer gimnastiek beoefen, nadat hy op skool laas gimnastiekonderrig gehad het. Sy afrigter, mnr. Giel Nel sê dat Louw volgende jaar aan die Graad 2-afdeling gaan deelneem. Na die Graad 2-afdeling volg die Olimpiese-afdeling. Die Veterane-afdeling is vir gimnaste tussen veertig en vyftig jaar, terwyl die Meesters-afdeling vir diegene bo vyftig is.

Volgens mnr. Nel het die Grade-kompetisie die kompetisieseisoen ingelui. Die volgende kompetisies is 'n vriendskaplike kompetisie op Louis Trichardt (3 Augustus), die Limpopo Gimnastiek Kampioenskappe in Polokwane (15 tot 17 Augustus) en die Noordsirkel Kampioenskappe in Pretoria (29 tot 31 Augustus). Die Suid-Afrikaanse Gimnastiekkampioenskappe sal van 26 tot 28 September op Stellenbosch aangebied word, terwyl die Louis Trichardt Klubkampioenskappe op 1 en 2 November die kompetisieseisoen sal afsluit.

Mnr. Nel sê dat die klub nou besig is met die finale afrondingswerk vir die komende kompetisies. Die gimnaste het dwarsdeur die vakansie geoefen. Die 35 seuns word deur mnr. Nel self afgerig, terwyl mevv. Renette Nel en Elzabé Stewart vir 60 dogters verantwoordelik is. Die tien ritmiese gimnaste onder leiding van mev. Riekie Steyn gaan op hul beurt aan die Ritmiese Gimnastiekkompetisies deelneem. 'n Groot aantal kleuters oefen soggens saam met mev. Gail Greaver.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines