

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 26 July 2002
MUSINA – Die semi-finale rondte van die plaatskildkompetisie in die Hentie Serfontein-rugbyliga het Saterdag (20ste) vir heelparty verrassings gesorg.
Die eerste wedstryd van die dag tussen Phalaborwa en Potgietersrus se derde spanne het nie gerealiseer nie, nadat Phalaborwa besluit het om punte te stuur. Dit het tot gevolg gehad dat MAC Messina III en Potgietersrus se derdes outomaties deurgedring het na die finale rondte van die kompetisie.
In die eerste wedstryd van die dag het Potgietersrus se tweede span Phalaborwa uitgeskakel deur hulle 18-7 te klop, waarna MAC Messina II 'n oortuigende 32-0 oorwinning oor Blouberg se tweedes behaal het en vir hulself 'n plek in die finaal verseker.
Die mees aanskoulike wedstryd van die dag was dié tussen die eerste spanne van Blouberg en Potgietersrus. Blouberg het tot laat in die tweede helfte 'n agterstand gehad, maar volgehoue druk en 'n geslaagde strafskop in die doodsnikke van die wedstryd het die wedstryd 18-17 in Blouberg se guns beklink. Kort hierna en met tien minute speeltyd oor het Potgietersrus se spelers egter van die veld gestap, na beweerde klagte ten opsigte van die skeidsregter.
MAC Messina I se wedstryd teen Levubu se eerstes het ook goeie rugby opgelewer. Messina was egter duidelik die beter span op die veld en behaal 'n 27-10 oorwinning. Die span se punte is aangeteken deur Shaun van der Merwe, Christiaan Duvenhage, Chuckie van Rensburg, Jaco van der Merwe en Piet Esterhuizen wat elk een drie druk, terwyl Christiaan ook 'n doelskop deur die pale stuur.
Die finale rondte van die plaatskildkompetisie sal eerskomende Saterdag (27ste) in Polokwane beslis word. MAC Messina III en Potgietersrus III sal teen mekaar te staan kom, terwyl MAC Messina II en Potgietersrus II sake sal uitspook. MAC Messina I sal op hulle beurt te staan kom teen Blouberg I. Wat laasgenoemde wedstryd betref, het 'n woordvoerder van die MAC Messina Rugbyklub gesê dat sou Blouberg speel soos hulle die afgelope Saterdag gespeel het, Messina definitief nie 'n maklike wedstryd sal hê nie. Alhoewel Levubu Saterdag uitgeskakel is, het hulle reeds na afloop van die eerste rondte wedstryde as wenners van die reserwekompetisie in die Hentie Serfontein-liga vir tweede en derde spanne uit die stryd getree.

ADVERTISEMENT:
