ADVERTISEMENT:

 

Marli Knoetze (17), die Soutpansberg se eie skitteratleet, het verlede week ‘n silwer medalje ingepalm tydens die Statebond Spele in Australië.

Silwer vir Marli by Statebondspele

 

Sport  Date: 10 December 2004

 

LEVUBU - Plaaslike glansatleet Marli Knoetze (17) is vandeesweek tuis na ‘n opwindende deelname aan die Statebond Jeugspele in Australië.

Marli het aan beide die gewigstoot en diskus vir 17- en 18-jariges by die spele in Bendigo in Melbourne, Australië, deelgeneem en bygedra tot die Suid-Afrikaanse span se oes aan medaljes.

Marli, wat aanvanklik eerste gekeur is in die gewigstoot, op sterkte van haar persoonlike beste poging van 15,67m met die 4kg gewig vanjaar, het uiteindelik op 3 Desember ‘n silwermedalje by die Spele gewen met ‘n stoot van 15,36m. Die wenpoging wat ’n goue medalje aan haar Australiese mededinger besorg het, was net 15,52m.

Onmiddellik na die gewigstoot moes Marli in die diskus deelneem.

“Ek het toe nie goed gevaar met die diskus nie, en het heelwat onder my persoonlike beste bereik,” sê Marli. Haar persoonlike beste poging in die diskus was vanjaar 51,72m. Die Australiese atleet wat die goue medalje vir die diskus gewen het, se wengooi was 49,5m.

Marli sê die deelname aan die Jeugspele was in die algemeen ‘n baie positiewe belewenis.

“Die byeenkoms was besonder goed gereël. Alles was deurentyd net reg.” Sy begin nou onmiddellik met ‘n nuwe oefenprogram met die oog op volgende jaar se belangrikste byeenkomste.

“Die eerste is nou die Suid-Afrikaanse Seniors byeenkoms in April aanstaande jaar. Daarna hoop ek om te kan deelneem aan die Afrika Wêreldkampioenskappe wat in Junie/Julie aanstaande jaar in Egipte gehou word,” sê Marli.

Die Suid-Afrikaanse spankaptein, Isaac Mboyaza, het goud gewen in die 1 500m wedloop. Amanda Kotzé het ook ‘n goue medalje in die 400m behaal. Ruaan Grobler het ‘n silwermedalje gewen in die mans 400m. Die Suid-Afrikaanse span het uit altesaam 80 lede bestaan.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines