

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 12 July 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Vol veld van 108 gholfspelers van regoor Suid-Afrika sal vanaf 11 tot 13 Julie hier vergader vir deelname aan die plaaslike gholfklub se negende Hanglip 54-toernooi.
Die toernooi word beskou as een van die streek se gewildste en grootste gholftoernooie en lok jaarliks spelers van regoor die land. Vanjaar is geen uitsondering nie, met veertig besoekende spelers wat saam met plaaslike talent daaraan gaan deelneem. Sommige van dié spelers kom van so ver as Kaapstad, terwyl die alombekende Klerksdorp- en Secunda-groepe ook weer in aksie te siene sal wees.
Die Hanglip 54 vind oor 'n periode van drie dae plaas en die 108 spelers sal daagliks meeding in die formaat van 'n beterbal Stableford kompetisie. Die gesogte Hanglip 54-trofee sal na afloop van die drie dae se spel toegeken word aan die speler met die beste individuele Stableford-telling.
Die eerste dag se spel word geborg deur die Makhado Munisipaliteit, terwyl SA Brouerye sal optree as borg van die tweede dag se spel. Die borg van die derde dag se spel is die Brink Schlesinger Groep.
Met geen verdedigende kampioen nie, beloof vanjaar se kompetisie vir 'n opwindende stryd. Verlede jaar se wenner, Vicky Grobler, het intussen na Australië geëmigreer. Hy het die Hanglip 54-trofee reeds drie keer gewen en het verlede jaar se toernooi met telling van 35, 38 en 41 punte oor die drie dae gewen.
Wat plaaslike gunstelinge betref, sal Kobus Barkhuizen (jr.) en Anthony Krügell, nie aan vanjaar se kragmeting deelneem nie. Dit maak die veld oop vir spelers soos Franna Knoetze, Vic Jacobs, Daan Nel en Alec Jandrell om vanjaar vir hulself naam te maak. Almal van hulle is uitmuntende gholfspelers wat gereeld in dié sportsoort uitblink.

ADVERTISEMENT:
