ADVERTISEMENT:

 

‘n Modder-bespatte Christiaan Roos (links) en CP van Wyk (regs), kort na hul deelname aan die tweede rondte van die MTN (Driven by Nissan) nasionale halfmarathon bergfietsreeks by Sabie die afgelope naweek. Foto verskaf.

Juniors skuur skouers met top Suid-Afrikaanse name

 

Sport  Date: 01 March 2013

 

Twee van die Soutpansberg se belowende jong fietsryers het die afgelope naweek kans gekry om skouers te skuur met van die top name in Suid-Afrikaanse bergfietsry en hulself goed van hul taak gekwyt.

CP van Wyk en Christiaan Roos het Sondag deelgeneem aan die tweede rondte van die MTN (Driven by Nissan) nasionale halfmarathon bergfietsreeks by Sabie. As deel van die nasionale PSG-fietsryspan het hulle in die junior mans (17 tot 18 jaar) deelgeneem en die veld gedeel met top name soos Dylan Rebello, huidige Suid-Afrikaanse junior halfmarathon bergfietskampioen, en Patrick Belton, wat verlede jaar hierdie titel gehou het, maar nou as senior deelneem.

Die nasionale PSG-span bestaan uit CP en Christiaan van Limpopo, een ryer van Mpumalanga, een van Suidwestelike Distrikte en een van Westelike Provinsie. PSG se borgskap van die junior span behels meer as net klere, maar ook reis- en verblyfkoste.

CP en Christiaan het aan die halfmarathon oor ‘n afstand van 38 kilometer deelgeneem. Maklik was dit nie. Van die 1 229 bergfietsryers wat weggespring het in die halfmarathon, het net 925 klaargemaak.

“Dit was nat, modderig en jy klim die heel tyd … dit was soos ysskaats,” het die twee Maandag gesê. Hul totale “klim” was 950m oor die afstand. Vanweë die modderige omstandighede was beide CP en Christiaan se wedren ook nie sonder voorval nie. Christiaan het vier keer geval. CP het kort voor die eindstreep ook geval en meen dit het hom ‘n plek gekos.

Die halfmarathon word gewen deur Rebello in 01:44:49, met Belton in die tweedeplek in 01:46:12. Nicolas Popich was derde in 01:48:09. CP was algeheel sewende in die wedren in ‘n tyd van 01:51:25 en vyfde in die junior mans kategorie. Christiaan, wat gesukkel het met die valle, was algeheel 63ste en 20ste in die junior mans kategorie.

“Dit was ‘n uitdaging om jouself teen die bestes te meet,” het CP en Christiaan gesê.

Nog twee junior bergfietsryers van Makhado (Louis Trichardt), André Viljoen en Chris van Wyk, het aan die O/16-afdeling van die 20km-wedren deelgeneem. André eindig algeheel tweede in die wedren, terwyl Chris nie die wedren kon voltooi nie. By die wegspring het ‘n ander fietsryer gegly en Chris se fiets in die proses so beskadig dat hy nie verder kon deelneem nie.

CP en Christiaan gaan vanjaar poog om hul provinsiale kleure in fietsry te verwerf. Die MTN (Driven by Nissan) marathon reeks word oor agt rondtes beslis, waarvan deelnemers aan vyf moet deelneem. Die derde rondte vind op 14 April in Tulbagh plaas. Christiaan is in hierdie stadium nie seker of hy sal kan deelneem nie. So ook CP, aangesien hy dieselfde tyd gaan deelneem aan die Afrika Kontinentale Kampioenskappe in Pietermaritzburg, waar hy in Suid-Afrikaanse kleure gaan ry.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines