ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Atletiek-fiasko bring einde aan SA-drome

 

Sport  Date: 07 March 2013

 

Die fiasko by beide vanjaar se Limpopo laer- en hoërskole atletiekbyeenkomste het baie atlete se harte gebreek.

Die name van sommige van die provinsie se topatlete het doodeenvoudig nie op die provinsiale spanlyste verskyn nie en derhalwe is dié atlete hul kans ontneem om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deel te neem.  Die probleme skyn grotendeels toegeskryf te word aan onbevoegdheid op distriksvlak.

“Daar was baie kinders in trane, eintlik van meer as een distrik, omdat hulle nie aan die Limpopo atletiek kon deelneem nie,” het Laerskool Louis Trichardt se atletiekorganiseerder na afloop van die byeenkoms op 1 Maart op die Peter Mokhaba stadion gesê.

Atlete van beide Hoërskool Louis Trichardt en Eric Louw is tydens die byeenkoms van 2 Maart op Peter Mokhaba gepenaliseer, omdat hulle name uitgelaat is. Na afloop van die distriksbyeenkoms op 16 Februarie op Musina moes ‘n Vhembe-distrikspanlys saamgestel word waarop die beste atlete se name verskyn. Daar was egter geen Vhembe inskrywings by die DO/17 400m, die SO/15 verspring, die DO/19 diskus en die SO/15 diskus nie, het ‘n skoolspanbestuurder vertel. Ander foute, soos verkeerde name op die lyste en verkeerde maniere van kinders uitdun, het ook klaarblyklik op distriksvlak voorgekom. Ouers vertel ook van verkeerde praktyke by die Limpopo-byeenkoms, veral by die velditems, soos byvoorbeeld om die kind se laaste sprong of gooi te vat in plaas van die beste een.

“Die Vhembe spanbestuurder het ‘n totaal onvolledige lys ingedien. Dit was ‘n fiasko, ‘n skandaal,” het atletiekafrigter Gideon Joubert gesê, maar niks wat die onderwysers, ouers of afrigters gesê het, kon die provinsie beweeg om enige veranderings te maak nie.

By die laerskole was daar ‘n klein bietjie sukses om foute reg te stel. “Ons het die registrasielys die vorige dag onder oë gekry en het al die foute met die bewyse daarvan aangemeld. Daar was egter nog steeds foute op die lys, maar ons kon vroeg die oggend so hier en daar iets regkry om ‘n kind betyds op die registrasielys kry,” sê me. Elzabé Stewart.

“Dit het my hart gebreek om Jonandi [Aucamp] so hartseer te sien, nadat sy nie toegelaat is om die 400m te hardloop nie omdat haar naam nie op die lys was nie. Sy was ons enigste hoop by die SA’s,” het me. Sanri du Plessis, toeskouer en ouer van nog ‘n hoërskoolatleet, gesê.

Joubert vertel hoe hard Jonandi voorberei het. “Sy het van Augustus af vyf dae per week geoefen. Ons het ook die week tevore op die Peter Mokhaba tartanbaan gaan oefen. Jonandi het al twee jaar agtereenvolgend SA’s toe gegaan. Hierdie was sover haar beste jaar en die 400m was haar beste item,” het Joubert gesê en bygevoeg dat hy ‘n brief aan Limpopo Atletiek gaan skryf.

Joubert vertel ook dat Rendani Ndouvhada maar net moes toesien hoedat die finaal van die “lang hekkies” sonder hom gehardloop word, nadat atlete wat stadiger as hy in die uitdunne was, se name vir die finaal ingegee is. Rendani het darem aan die 110mH finaal deelgeneem en derde gekom. Atlete soos Wynand Mouton en Richelle Lambert se name het verkeerdelik nie op die lys verskyn nie.

Mnr. Johan Aucamp, Jonandi se pa, sê dat hulle baie teleurgesteld is dat Jonandi die geleentheid ontneem is om aan die SA’s deel te neem na al haar harde werk, tyd en onkoste. “Om eerlik te wees, ek was Saterdag baie woedend oor die onbevoegdheid. Ek voel ons moet iets doen namens al die kinders, sodat so iets nie weer met kinders gebeur nie. Ek weet nog net nie waar om te begin nie. Eric Louw se onderwyser het gesê dat hy gaan opvolg,” het Aucamp hierdie week gesê.

‘n Medianavraag oor die fiasko is aan ‘n atletiekamptenaar van die distrik gerig, maar teen druktyd is daar steeds gewag op antwoorde.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines